Met ure oor voor die DA se federale raad ’n nuwe tussentydse leier en tussentydse nasionale voorsitter verkies, het John Steenhuisen, die party se parlementêre leier, aangedui dat hy ’n laaste poging sal aanwend om soveel lede as wat hy kan voor die stemmery te probeer oorreed dat hy die geskikte kandidaat vir die pos is.

John Steenhuisen Sondagoggend buite die DA se hoofkantore in Bruma.Foto: Bonolo Selebano.
Steenhuisen het Sondag buite die DA se hoofkantore in Bruma, Johannesburg, aan joernaliste gesê dat hy die regte kandidaat vir die pos is.
“Natuurlik sou ek nie myself verkiesbaar gestel het as ek nie gedink het ek is die regte persoon vir die pos nie, maar soos ek gesê het: Wie ook al vandag wen, bly die DA steeds die eintlike wenner,” sê Steenhuisen.
Makushule Gana, lid van die Gautengse wetgewer, is die ander kandidaat wat hom verkiesbaar gestel het.
Ongeveer 160 lede van die DA sal na verwagting hul kruisies trek en die kandidaat wat wen sal die party lei tot sy eerste kongres in 2020.
Toe Steenhuisen gepols is oor of hy vol vertroue is dat hy dalk kan wen, het hy geskerts dat nog niks ’n uitgemaakte saak is nie. “Die lede sal vandag besluit en ek sal die stemuitslag respekteer.”