Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Masker-storm bars oor eNCA-joernalis los

Die nuuskanaal eNCA het vir een sy joernaliste in die bres getree nadat ’n storm op sosiale media losgebars het oor wat as “rassistiese optrede” bestempel word.

Haar optrede was nie rasgedrewe of kwaadwillig nie, en dit wat opslae maak op sosiale media weerspieël nie wat werklik gebeur het nie, het eNCA Donderdag in ’n verklaring gesê.

Die joernalis ter sprake, Lindsay Dentlinger, is onder skoot nadat video’s van haar op Twitter gedeel is waarin sy oënskynlik net vir swart politici vra om hul maskers op te sit terwyl sy in regstreekse uitsendings met hulle onderhoude voer.

Sy nader gereeld verteenwoordigers van politieke partye om kommentaar ná afloop van belangrike geleenthede in die Nasionale Vergadering, soos wanneer die staatsrede en die begroting gelewer word.

Nqabayomzi Kwankwa, UDM-LP, sit sy masker op in die uitsending. Foto: Skermgreep

Twitter-gebruikers het enkele video’s van onderhoude deur Dentlinger saam geredigeer om hul punt te benadruk. Hulle meen sy is meer geneig om swart politici te vra om hul maskers te dra.

Sy het Woensdag ’n onderhoud met Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gevoer sonder dat hy ’n masker gedra het.

Nqabayomzi Kwankwa, UDM-LP, kom kort daarna nader en sy vra hom om sy masker op te hou.

Daar is ook minstens twee video’s waarin sy onderhoude voer met John Steenhuisen, DA-leier, sonder dat hy ’n masker dra.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, terwyl hy sonder ‘n masker oor die begroting praat. Foto: Skermgreep

“Ná ’n vergadering met Dentlinger om die aangeleentheid te bespreek, het die eNCA-bestuur tot die gevolgtrekking gekom dat haar gedrag nie rasgedrewe of met kwaadwillige opset was nie,” sê die nuusdiens in ’n verklaring.

John Bailey, hoofredakteur van eNCA, benadruk in die verklaring dat sommige van die video’s wat gedeel word, kwaadwillig misleidend is.

Norman Munzhelele, besturende direkteur van eNCA, sê die bestuur het die voorval ondersoek en skryf dit toe aan die druk waaronder verslaggewers in regstreekse uitsendings verkeer.

“Die joernalis het geen kwaadwillige bedoelings gehad nie. Die indruk wat nou geskep word, is onregverdig teenoor Dentlinger en eNCA.”

Munzhelele beklemtoon ook dat Dentlinger se gedrag as politieke verslaggewer nog nooit onder enige verdenking was nie.

Hy sê egter dat eNCA die sensitiwiteit van die saak en mense se kommer begryp.

“Ons bevestig weer eens ons verbintenis om die nakoming van die regulasies, ongeag ras, kleur of geloofsbelydenis, aan te moedig om die verspreiding van Covid-19 te keer.

“Wat die nakoming van Covid-19-protokolle betref, het eNCA uitgebreide inhoud uitgesaai om kykers op te voed, terwyl joernaliste gereeld versoek word om te verseker dat hulle en almal met wie hulle onderhoude voer, die regulasies nakom.”

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het Vrydag op Twitter aangekondig dat die UDM Dentlinger by die Uitsaaiklagtekommissie verkla het. Luidens die klagte was Dentlinger se boodskap: “Wit mense is vry van Covid-19 terwyl swart mense nie is nie.”
Die UDM sê ook Kwankwa se waardigheid is aangetas.

Sbu Ngalwa, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), het Vrydag tydens ’n gesprek tussen Sanef en pres. Cyril Ramaphosa die kwessie opgehaal en gesê die reaksie hierop was geregverdig. “Joernaliste is mense, maar waar foute gemaak word, moet dit erken word,” het hy gesê.

Is Dentlinger se optrede verdag? Kyk self:

Volledige video van onderhoude ná afloop van Woensdag se begroting.

Volledige video van onderhoude ná afloop van pres. Cyril Ramaphosa se antwoorde op die staatsrede-debat:

Geredigeerde video wat op Twitter gedeel word:


Meer oor:  Lindsay Dentlinger  |  Maskers  |  Rassisme  |  Covid-19  |  Enca  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.