Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Talle staan by boere ná geweld

André Pienaar, ’n boer van Marquard, word in Bethlehem aangehou nadat hy in verband met Dinsdag se geweld by die landdroshof in Senekal in hegtenis geneem is.

Pienaar se prokureur, Ilanie Oberholzer van N.O. Oelofse Prokureurs in Senekal, sê in ’n mediaverklaring dit gaan onder omstandighede goed met haar kliënt.

“Ons sal nie vanaand (Woensdagaand) ’n borgtogaansoek kan bring nie omdat ons moet wag vir die klagstaat. Ondersoekbeamptes sê dit sal moontlik eers môre (Donderdag) gedoen word omdat die ondersoek nie gefinaliseer is nie,” sê Oberholzer.

André Pienaar, ’n boer van Marquard, Dinsdag in ’n vurige versoek aan ’n polisielid om die verdagtes in die moord op Brendin Horner vir die skare te kom wys. Skermgreep: Netwerk24-video

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Pienaar word van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging aangekla.

Oberholzer vra mense moet kalm bly omdat daar reeds ’n span prokureurs en advokate is wat bereid is om te help.

Sy vra ook Pienaar se gesin moet gerespekteer word en mense “moet ophou om goed op sosiale media rond te stuur”.

Pienaar se inhegtenisneming spruit uit die geweld wat Dinsdag uitgebreek het toe boere die twee moordbeskuldigdes wou sien.

Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44), word aangekla van die moord op Brendin Horner (22) wat naby Paul Roux by ’n plaashek vermoor is.

Die oomblik wat die gemoedere in Senekal laat oorkook het. André Pienaar, ’n boer van Senekal, het ’n emosionele toespraak gehou buite die hof waar die vermeende moordenaars van Brendin Horner Dinsdag verskyn het. Hy het sy toespraak afgesluit met die woorde: ‘Kom ons gaan haal hulle uit!’ Hierop het ’n stormloop na die hofgebou gevolg, waar ’n polisielid hulle wou voorkeer. Pienaar is Woensdag deur die polisie in hegtenis geneem en word in Bethlehem aangehou. Foto: Cheréne Pienaar

Intussen het verskeie leiersfigure hulle by die boere en hul ondersteuners geskaar en gesê Dinsdag se geweld het ’n lang aanloop en dat uittarting deur die polisie onder meer daartoe bygedra het.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die emosies oor plaasgeweld wat begin hoog loop, kan direk toegeskryf word aan pres. Cyril Ramaphosa se ontkenning dat boere in Suid-Afrika vermoor word.

“Voeg daarby die voortdurende demonisering van boere en beskuldigings dat hulle grond gesteel het, asook die wreedheid van plaasmoorde, die onlangse uitspraak van Cele wat hy nou skielik ontken, dat boere nie moet kla as hulle seerkry nie, en alles loop op tot omstandighede wat boere emosioneel tot breekpunt dryf,” sê Groenewald.

Vrystaat Landbou (VL) sê ’n boodskap dat hy gratis regshulp sal gee aan boere wat aangekla word, is vals.

Hy sê egter die gebeure is die gevolg van frustrasies en die oorkook van emosies van boere en die breë gemeenskap se stryd teen misdaad wat soos ’n kanker vreet.

‘Genoeg is nou f*kken genoeg!’ lui die plakkaat by 'n brandende polisievangwa voor die hof in Senekal. Omgekrapte boere het die vangwa aan die brand gesteek met die verskyning van die twee vermeende moordenaars van Brendin Horner. Foto: Mlungisi Louw
’n Polisielid kyk hoe ’n polisievangwa brand nadat boere die voertuig buite die landdroshof in Senekal aan die brand gesteek het. Foto: Mlungisi Louw

“Boere, hul gesinne en plaaswerkers word blootgestel aan wrede moorde en ernstige geweldsmisdade wat plaasaanvalle insluit, terwyl die algemene opvatting bestaan dat die regering hom eerder ophou met politieke ideologieë as om na die welstand van die land se bevolking om te sien en kosverskaffers as ’n prioriteit te ag,” sê VL in ’n mediaverklaring.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, sê die boeregemeenskap is onder beleg en dat woede en gegriefdheid onder boere begin opbou het.

Hy sê die uitlatings deur die minister van polisie en pres. Cyril Ramaphosa help nie om boere se frustrasie te verlig nie.

Lees ook: Boer aangekeer weens oproer in Senekal

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.