Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KZN-betogings: ‘Politieke leierskap nou nodig’
Betogers in die dorp Nkandla Saterdag. Foto: Lulama Zenzile.

Politieke leierskap is nou dringend nodig om die situasie in KwaZulu-Natal onder bedwang te bring, sê prof. Theo Neethling, ’n politieke en militêre kenner verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Grootskaalse betogings heers sedert Vrydag in dié provinsie weens die inhegtenisname van oudpres. Jacob Zuma Woensdagaand. Hy dien tans ’n vonnis van 15 maande tronkstraf uit.

“Dit is skokkend om te sien wat in KwaZulu-Natal afspeel. Politieke leierskap is nou nodig om die situasie onder bedwang te bring. Daar moet opdrag gegee word aan die veiligheidsmagte, veral die polisie, om nou strenger op te tree. Die polisie het tot dusver ’n lae profiel op die grond gehandhaaf.

“Indien daar nie enige politieke wil is om die situasie in KwaZulu-Natal onder beheer te bring nie, sal die betogings voortduur. Iets moet gedoen word,” sê Neethling.

oudpres. Jacob Zuma
Oudpres. Jacob Zuma Sondag op die nuuskonferensie in Nkandla. Foto: Lulama Zenzile

Sy kommentaar volg nadat 23 vragmotors Vrydagaand op die N3-snelweg naby Mooirivier deur Zuma se ondersteuners aan die brand gesteek is. Die snelweg was steeds vir verkeer gesluit gewees teen 16:00 Saterdagmiddag.

Neethling sê hy sal egter nie wil sien dat die weermag in KwaZulu-Natal ontplooi word nie. “Die weermag kan nie by elke situasie betrokke raak nie. Hul geld laat dit in elk geval nie toe nie. Dit is die polisie se werk om die situasie op te los.”

Hy sê daar moet ook verhoed word dat die betogings na ander provinsies uitbrei.

Die ekonoom Dawie Roodt sê die ekonomiese impak weens die gebeure in KwaZulu-Natal, waar vragmotors geplunder en aan die brand gesteek word, strek verder as net die finansiële skade van die partye wat regstreeks daardeur geraak word. “Dit wys net weer eens vir die wêreld dat Suid-Afrika ’n kriminele en politiek onstabiele plek is. Dit sal die ekonomie nog verder verswak. Niemand sal hier wil belê as hulle weet hul beleggings is in gevaar nie.”

Daar was Saterdag ook weer betogings op die N2-snelweg naby KwaDukuza, die dorp Nkandla en in Estcourt, waar Zuma aangehou word.

Betoging
Betogers het Saterdagoggend die pad vanaf Eshowe na oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woonkompleks versper. Die polisie was op die toneel maar het nie lank daar gebly nie. Foto: Mlungisi Louw
brand
Vermoedelik ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma het Vrydagoggend paaie in KwaZulu-Natal versper ná die hofuitspraak wat nie in sy guns was nie. Foto: Mlungisi Louw

Netwerk24 verstaan ook dat daar winkels geplunder is in die omgewing van Mooirivier as deel van die betogings.

Die pad tussen Eshowe en Zuma se Nkandla-woning was ook Saterdag deur Zuma-ondersteuners versper. Klippe en bakstene is na Netwerk24 en die polisie geslinger.

“Ons soek Zuma (terug),” het ondersteuners gegil.

Brig. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het Saterdag by navraag gesê 27 mense is sedert Vrydag vir gewelddadige optrede in hegtenis geneem. Hy sê die polisie ondersoek klagte van openbare geweld, sakeroof, kwaadwillige saakbeskadiging en die oortreding van die inperkingsregulasies.

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa en die ANC gevra vir kalmte in KwaZulu-Natal.

Ramaphosa het Saterdagmiddag in ’n verklaring ’n beroep op gemeenskappe in die provinsie gedoen om hulle daarvan te weerhou om die oppergesag van die reg te ondermyn en die ekonomie skade te berokken. Hy het gesê die gevolge van openbare geweld teen die padvervoerbedryf en die skade aan snelweë, wat as ekonomiese are dien, sal ook gevoel word deur die mense wat die misdade beplan en pleeg. Hy het gesê die redes wat glo vir die geweld in KwaZulu-Natal aangevoer word, kan nie gebruik word om vandalisme en openbare geweld te regverdig nie.

Ramaphosa het ook die polisie bedank vir die inhegtenisnemings.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Zuma-Geweld  |  Zuma-Vonnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.