Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: LUR meer besorg oor sakeman as departement

Die betroubaarheid van lewensnoodsaaklike suurstoftoerusting wat in hospitale vir operasies en noodgevalle gebruik word, was vir ’n voormalige LUR van gesondheid in KwaZulu-Natal van minder belang as die geld wat ’n sakeman vir die kontrak sou ontvang om dié toerusting te verskaf.

Trevor White, ’n forensiese ouditeur van PricewaterhouseCoopers (PwC), wat Woensdag sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping voortgesit het. Foto: Skermgreep

Dít was Woensdag die getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Trevor White, ’n forensiese ouditeur van PricewaterhouseCoopers (PwC), het getuig oor die kontrakte wat die Kaapstadse sakeman Gaston Savoi se onderneming Intaka van onder meer die departement van gesondheid van KwaZulu-Natal gekry het.

White het getuig die betrokke LUR, Peggy Nkonyeni, het die tender probeer deurdruk, selfs al was daar ernstige praktiese implikasies, soos dat daar ook kragopwekkers gekoop moes word indien kragonderbrekings die suurstoftoerusting laat ophou werk.

Die mediese dokters het silinders met suurstof verkies, eerder as die suurstoftoerusting, wat uit klein aanlegte –bekend as “Oxyntakas” – bestaan wat suurstof genereer.

White het getuig mediese dokters was ontevrede met die Intaka-eenhede en wou bykomende suurstofbronne hê vir wanneer daar kragonderbrekings is.

White het getuig dat Intaka se eie werknemers ook vrae oor die kontrak begin vra het oor daar moontlik nie aan tegniese vereistes voldoen word nie.

Van die bekommernisse was dat suurstof in ernstige gevalle gebruik word, soos vir operasies en noodgevalle, wat beteken dat suurstoftoevoer nie onderbreek kan word nie.

Volgens White is daar bewyse dat Nkonyeni en haar vriend, Lindelani Mkhwanazi, tussen April 2007 en Desember 2007 meer as tien keer van Durban na Kaapstad gevlieg het om Savoi te besoek. Dit is volgens datums in Savoi se dagboek.

R500 000 elk

In die tyd toe die kontrak vir die suurstoftoerusting aan Intaka toegeken is, het Savoi na bewering twee betalings van R500 000 elk aan Mkhwanazi se maatskappy, Rowmoor, gemaak.

Savoi het vir die verblyf van die LUR en haar vriend betaal toe hulle in Oktober 2007 by die spoggerige Steenberg-hotel in Kaapstad gebly het.

White het getuig die Rowmoor-maatskappy is op 26 Maart 2007 geregistreer en Mkhwanazi het op 4 Mei 2007 ’n direkteur daarvan geword.

Mkhwanazi was op 4 Mei 2007 in Kaapstad en hy het ook op dié dag met Savoi vergader, het White getuig.

Die kontrak wat Intaka gekry het, het glo vereistes gehad waaraan Intaka moes voldoen, wat die kontrak nie meer so gunstig gemaak het nie. Dit het ingesluit dat Intaka die toerusting in stand moes hou.

White het getuig Nkonyeni was meer bekommerd oor die welstand van Intaka as dié van die departement van gesondheid.

Skenking

Nkonyeni het in ’n e-pos geskryf dat Savoi in dié geval nie ’n “skenking” hoef te maak nie, omdat die kontrak met Intaka nie so gunstig (vir Intaka) is as wat dit moes gewees het nie.

In Nkonyeni se e-pos staan: “Miskien moet jy die skenking los omdat Intaka ingevolge die kontrak verloor weens die instandhouding wat julle moet doen. Ons moet volgende keer meer versigtig wees. Peggy.”

White het getuig hy kon geen rekord kry van so ’n skenking nie, maar dit is dalk omdat Savoi nooit die skenking gemaak het nie omdat die kontrak nie so gunstig vir Intaka was nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gevra wat dit beteken dat Nkonyeni in haar e-pos gesê het hulle moet volgende keer meer versigtig wees.

Hierop het White geantwoord wat sy ook al bedoel het, haar belang is hier by Intaka. Sy moes eintlik namens die departement van gesondheid verheug gewees het dat die departement ’n beter kontrak gekry het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.