Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KZN: ‘Ramptoestand sal noodfondse losmaak’

Die provinsiale ramptoestand in KwaZulu-Natal sal dié provinsie help om noodfondse los te kry, sê Theo Venter, politieke kenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Sy kommentaar kom kort nadat Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, ’n provinsiale ramptoestand afgekondig het.

Die N3-hoofweg tussen Durban en Pietermaritzburg op 9 Julie toe die pad met sandhope en brandende buitebande versper is. Foto: Mlungisi Louw

“Dié ramptoestand is presies dieselfde as dié wat afgekondig sal word tydens erge droogtes of wanneer brande amok saai. Dit help provinsiale regerings om noodfondse los te kry om bystand te lewer. Dit wys ons net hoe erg die situasie werklik in KwaZulu-Natal is,” sê Venter.

Hy sê die ramptoestand kom kort nadat die nasionale tesourie vroeër vandeesweek aangekondig het dat verdere finansiële hulp ná die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng beskikbaar gestel sal word.

“Die proses moes egter baie vinniger gebeur het,” sê hy.

Hy meen die ramptoestand moes ook van krag gewees het sodat die weermag vragmotors op die N3-hoofweg kon beskerm. Dié pad verbind Johannesburg met Durban.

Grootskaalse onluste het in KwaZulu-Natal uitgebreek kort nadat oudpres. Jacob Zuma op 7 Julie in sy woning in Nkandla in hegtenis geneem is. Dit het slegs enkele dae geneem vir die onluste om na Gauteng oor te spoel.

Dié ramptoestand is presies dieselfde as dié wat afgekondig sal word tydens erge droogtes of wanneer brande amok saai.

Zikalala het Donderdag gesê die besluit om ’n ramptoestand in KwaZulu-Natal af te kondig, is Woensdag op ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende raad geneem. Hy sê die skade aan openbare infrastruktuur word op meer as R1,5 miljard geraam.

“Die ramptoestand sal ons help om ons begroting aan te pas sodat ons kan begin om te herbou,” sê hy.

Netwerk24 het vroeër berig dat die totale omvang van die skade in KwaZulu-Natal op R15 miljard geraam word.

Zikalala sê dit is nog nie duidelik hoe lank die ramptoestand van krag sal wees nie.

Prof. Theo Neethling, ’n politieke en militêre kenner verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê die ramptoestand sal die provinsiale regering help om bestaande geld in die provinsie se begroting te herversprei.

“Indien dit nodig is om geld na die skade te herprioritiseer, dan is dit die regte besluit van die premier,” sê Neethling.

Die situasie in KwaZulu-Natal is veel erger as in Gauteng.

Ook AfriForum sê hy is bly oor die afkondiging van die ramptoestand. “Ons het al tydens die onluste vir Zikalala gevra om dit te doen. Die gemeenskappe in KwaZulu-Natal moes hul eie rampbestuursplan uitvoer; iets wat die munisipaliteite moes doen. Ons is bly oor hierdie stap maar nou moet ons verseker dat sulke onluste nie weer uitbreek nie. Ons het reeds weer gehoor van ’n sogenaamde tweede ronde van plundery. Hoe waar dit is, weet ons nie, maar ons kan dit nie toelaat nie,” sê Morne Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regering.

Hy sê AfriForum sal ook dophou hoe die provinsiale regering die geld tydens die ramptoestand aanwend.

Hy sê dat hulle nie dink dit is in hierdie stadium nodig dat Gauteng dieselfde stappe doen nie.

“Die situasie in KwaZulu-Natal is veel erger as in Gauteng. Dit beteken egter nie dat ons nie vir (David) Makhura (premier van Gauteng) sal vra om ’n ramptoestand af te kondig indien die situasie in dié provinsie weer opvlam nie,” sê Mostert.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.