
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Masi Losi
Die minister van finansies, Tito Mboweni, het hom Sondag tot sosiale media gewend in ’n poging om ’n openbare debat oor reddingsboeie aan sukkelende staatsondernemings te ontketen.
Mboweni, wat bekend is vir sy siening dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ’n las is op die ekonomie, het op Twitter gesê dat burgers oor kwessies van openbare belang moet besluit.
“Ons moet ’n demokratiese stelsel ontwikkel waarin kwessies van NASIONALE belang gepak word en nie partypolitieke belangrikheid nie. In ’n behoorlike demokrasie moet ’n openbare debat plaasvind wat lei tot ’n REFERENDUM!! Laat die mense besluit, nie die Politburo nie! Die BURGERS!! Ons die MENSE moet besluit!” het Mboweni Sondagoggend op Twitter gesê.
“Oukei. Ek hoor jou. Byvoorbeeld, wat is die burgers se beskouings oor of ons moet voortgaan om reddingsboeie aan staatsondernemings te gee en of ons belastingbetalers se geld aan paaie en ander openbare goedere moet bestee? Kom ons hou ’n openbare debat!”
Pres. Cyril Ramaphosa het verlede maand die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se lekgotla in Irene, Tshwane, met ’n toespraak afgesluit waarin hy gesê het die ANC het ooreengekom om die land se meer as 740 staatsondernemings te konsolideer.
“Die ANC en sy alliansievennote, onder meer die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het ingestem om ’n pragmatiese beskouing van die land se staatsondernemings te huldig deur geld by sekeres weg te neem en in ander te belê.”
Terwyl die party die deur wil open vir private vennote by Eskom, is die SAL onlangs in sakeredding geplaas.
Terwyl die party die deur wil open vir private vennote by Eskom, is die SAL onlangs in sakeredding geplaas.
SAL se sakeredders het onlangs bekend gemaak dat ’n aantal vlugroetes gekanselleer gaan word.
Volgens die sakeredders is die besluit geneem om ’n basis vir ’n sterk en volhoubare lugdiens te skep en om te verseker dat die maatskappy aanlokliker vir moontlike strategiese vennote is.
Maar die SAKP het vroeër verlede week kapsie gemaak teen die sakeredders se besluit om sekere plaaslike en internasionale roetes op te skort.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, sê ’n referendum sou dalk teenstrydig wees met die ANC se standpunt oor sleutelstaatsondernemings.
“As jy vra vir ’n referendum, is ek redelik seker baie mense sou sê laat die SAL gaan. Die blote feit dat Tito dit noem, beteken dat hy lynreg bestaande ANC-beleid teenstaan en daarom dink ek nie sal hy lank as minister van finansies hou nie. Hy sal of moet spring of hy sal gestamp word.”