Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Laat Skoor deelneem aan vergaderings oor SAL’

Die parlement moet aandring daarop om te kan deelneem aan die vergaderings wat die sakereddingspraktisyn Les Matuson in die komende paar dae met belanghebbendes van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan hou as deel van die sakereddingsproses.

Foto: ELVIRA WOOD

Alf Lees, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het Sondag gesê hy het aan Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter, geskryf om hom te vra om dadelik aan Matuson te skryf en daarop aan te dring dat Skoor ingesluit word by die vergaderings.

Hlengwa het Sondag bevestig dat hy Lees se brief ontvang het, maar dat hy eers Maandag sal reageer.

Lees het gesê hy verneem Matuson gaan in die volgende tien dae met alle SAL-belanghebbendes vergader.

“Die konsultasieproses is noodsaaklik as Matuson enige kans wil staan om die bankrot SAL te red.

“Die SAL het die afgelope 25 jaar opeenvolgende ANC-regerings afgepers om reddingsboeie van gesamentlik R57 miljard aan die SAL te verskaf,” het Lees in ’n verklaring gesê.

Hy meen die feit dat die SAL-direksie die afgelope twee jaar geweier het om die lugdiens se jaarlikse finansiële verslae by die parlement in te dien soos deur wetgewing vereis, het dit vir die parlement onmoontlik gemaak om toesig te hou oor die SAL wat tans ’n massiewe finansiële las vir belastingbetalers is.

Daarbenewens het die SAL-direksie volgens Lees geweier om ’n Skoor-vergadering op 27 November by te woon. Die komitee wou verlede week die SAL-hoofkantoor besoek om met die direksie te vergader, maar het dit laat vaar nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat die lugdiens in vrywillige sakeredding geplaas word.

Intussen het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Sondag in ’n rubriek in die Sunday Times gesê die vrywillige sakeredding was ’n “moeilike” besluit wat in nasionale belang geneem moes word omdat die land ’n “onhoudbare” fase bereik het.

“In ’n stadium is dit vergelyk met ’n pasiënt met orgaanversaking. Iets moes vinnig gedoen word om die agteruitgang te stuit,” het Gordhan geskryf.

Hy sê die sakereddingsproses is die beste manier om volhoubare dele van die SAL te behou en om dit aanlokliker te maak vir ekwiteitsvennote én om SAL-vliegtuie en -passasiers terselfdertyd in die lug te kan hou. Dit beskerm ook werksgeleenthede en die belange van die krediteure, meen Gordhan.

City Press het Sondag ook berig hoe die ineenstorting van die SAL Ramaphosa polities groot skade kon berokken het. Dié koerant het berig hoe Gordhan en Tito Mboweni, minister van finansies, haaks geraak het oor die SAL se lot en hoe Gordhan Mboweni nie kon oorreed om nog ’n leningswaarborg aan die SAL toe te staan nie.

Mboweni is openlik gekant teen staatsentiteite wat van reddingsboeie afhanklik is.

Die deurbraak het luidens City Press egter die afgelope Woensdag gekom toe finansiers ingestem het om ’n pakket van R2 miljard te verskaf op voorwaarde dat die SAL én die pakket deur ’n sakereddingspraktisyn bestuur word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.