Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Laat Zuma vry sodat kalmte kan terugkeer’

Solank as wat oudpres. Jacob Zuma onregverdig in die tronk is, is sy hande gebind om iets te doen aan die geweld wat vandeesweek in KwaZulu-Natal en Gauteng voorgekom het.

Daarom moet hy vrygelaat word om die nasie toe te spreek en ’n beroep om kalmte te doen, sê die #FreeJacobZuma-veldtog. Die veldtog gee pres. Cyril Ramaphosa 14 dae om Zuma vry te laat.

Oudpres. Jacob Zuma

Die organiseerders van die veldtog het Vrydagmiddag op die TV-kanaal LoveworldSat News24SA gesê die gevangenskap van Zuma was klaarblyklik die vonk in ’n spreekwoordelike kruitvat.

“Daarom moet stappe dadelik gedoen word om pres. Zuma onmiddellik vry te laat uit sy onregverdige politieke gevangenskap.”

Andile Lungisa, voormalige adjunkjeugleier van die ANC en voormalige raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro wat vandeesweek deur die ANC geskors is, het die konstitusionele hof daarvan beskuldig dat hy onwettig opgetree het. Die konstitusionele hof het Zuma tot 15 maande tronkstraf gevonnis omdat hy ’n bevel van dié hof verontagsaam het om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.

Die veldtog-organiseerders beskuldig die media daarvan dat hy alle misdadigers wat aan die geweldpleging en plundering deelgeneem het, Zuma-ondersteuners noem.

“Dit is omdat Zuma in die media se boek ’n plunderaar en daarom ’n misdadiger is. Dit is ook daarop gemik om enigeen wat teen die onbillike gevangenskap van pres. Zuma betoog as ’n plunderaar en daarom ’n misdadiger voor te hou.”

Die veldtog-organiseerders sê dié beweging steun nie geweld nie.

“Ons was nog altyd in beginsel teen die jare lange vervolging en nou gevangenskap van pres. Zuma gekant. Ons teenkanting was nog altyd vreedsaam en binne die perke van die reg. Ons het nog nooit ’n oproep gedoen om wetteloosheid en geweld nie.”

Carl Niehaus, geskorste ANC-lid en woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA), een van die organiseerders, sê die MKMVA het die ANC en die regering al op 18 Augustus verlede jaar gewaarsku oor onstabiliteit en geweld as Zuma in hegtenis geneem sou word.

“Nou skielik word ons die skuld vir die geweld gegee – en dit deur mense wat nie na ons waarskuwings geluister het nie. Ons het ons nog altyd vir vrede en stabiliteit beywer,” sê Niehaus.

Die veldtog sê in ’n verklaring hy lei nie ’n misdadige aanslag nie, maar ’n “wettige revolusionêre weg” waarin misdadigheid nooit geduld sal word nie.

Hy waarsku so lank as wat daar groot ongelykhede, armoede en werkloosheid in die land is, sal dit nie lank vat voordat die massas geen respek meer vir “ons trotse grondwetlike bestel sal hê nie”.

“Die armes het die einde van hul geduld bereik,” het Niehaus later in vraetyd gesê.

Benewens die vrylating van Zuma het die organiseerders – wat groot ondersteuners van die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in die ANC is – 13 ander eise aan die regering gestel.

Dit sluit onder meer die nasionalisering van die Reserwebank, myne en strategiese nywerhede in, asook die stig van ’n staatsbank, die houvas van witmonopoliekapitaal wat verbreek moet word, gratis onderwys en onteiening sonder vergoeding.

Meer oor:  Plundering En Geweld  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.