Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Laat Zwane voor Zondo kom getuig’

Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, moet voor die Zondo-kommissie na staatskaping kom getuig oor sy beweerde rol in die kaping van Eskom.

So het adv. Vincent Maleka SC, die getuienisleier, Woensdag aan adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê op die kommissie se sitting in Johannesburg.

Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne.

Maleka het ’n beroep op die kommissie gedoen om “die gapings te vul” in adv. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer, se staatskapingsverslag oor die rol wat Zwane gespeel het om te verseker dat die Guptas se Tegeta-maatskappy die Optimum-steenkoolmyn in 2015 van Glencore verkry.

Maleka het uit Madonsela se verslag gelees en gesê Zwane moet kom verduidelik oor sy reis na Switserland.

“Dit kan nie betwis word dat minister Zwane inderdaad na Zürich, Switserland, gereis het vir onderhandelinge tussen Glencore en Tegeta nie.

“Daarby het die minister nie sy reisplan voltooi nie en op raaiselagtige wyse in Dubai geëindig sonder dat hy aan boord gegaan het van sy geskeduleerde vlugte van Zürich na Dubai, van Dubai na Delhi en van Delhi na Dubai.

“Dit lyk ook asof daar ’n bykomende vlug bespreek is van Dubai na Johannesburg. Dit het gelei tot koste van R96 630.

“As dit nie weerlê word of ten volle verduidelik word nie, lyk dit soos vrugtelose en vermorsende besteding.”

Maleka het vroeër by Zondo aangedring dat hy sy magte gebruik om individue wat geïmpliseer word by die beweerde korrupsie by Eskom, te dagvaar om voor hom te kom getuig.

Hy het gesê die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings se verslag oor staatskaping by Eskom sal as ’n “nuttige beginpunt” aan die kommissie voorgelê word om die omvang van wandade bloot te lê.

Beoordeel my op grond van my optrede. Ek het nog nooit die middelvinger aan die gereg gewys nie.

In hierdie parlementêre verslag word aanbeveel dat onder andere Zola Tsotsi en Ben Ngubane, voormalige Eskom-voorsitters, Matshela Koko, voormalige tussentydse hoof, Zethembe Khoza, voormalige tussentydse voorsitter, Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof, en Anoj Singh, voormalige finansiële hoof, voor die kommissie moet kom getuig.

Netwerk24 het Koko Woensdag om kommentaar genader. Hy het gesê hy sal voor die kommissie kom getuig as hy gevra word.

“Beoordeel my op grond van my optrede. Ek het nog nooit die middelvinger aan die gereg gewys nie. Ek is geroep om voor die Eskom-ondersoek te verskyn, en ek het, ek is geroep om voor die parlementêre ondersoek te verskyn, en ek het. Ek sal ten volle aan die reg voldoen,” het hy gesê.

Molefe het vroeër gesê hy kry regsadvies oor die kwessie. “Waarom sou ek weier om met die kommissie saam te werk? Maar dit hang af van behoorlike regsadvies,” het hy gesê.

Prof. Shadrack Gutto, ’n politieke ontleder, sê in die lig van Eskom se volgehoue finansiële probleme en die onlangse ronde beurtkrag, moet die kommissie tot die kern van die nutsmaatskappy se probleme deurdring.

“Dit is belangrik dat die waarheid aan die lig kom sodat ons kan uitvind wat die sistemiese probleme by Eskom is. Eskom het die ekonomie duur te staan gekom en hy moet daarvoor verantwoordbaar gehou word,” het Gutto gesê.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Eskom  |  Mosebenzi Zwane  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.