Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lamola gekap ná hy hulp vir #FeesMustFall-aktivis aanbied

Die minister van justisie en korrektiewe dienste is deur opposisie-LP’s oor die kole gehaal ná ’n twiet waarin hy aanbied om ’n #FeesMustFall-aktivis wat ’n polisievangwa aan die brand gesteek het te help om kwytskelding te kry.

Minister Ronald Lamola moes Dinsdag in die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste bontstaan toe LP’s hom met vrae oor sy Twitter-aanbod aan die veroordeelde student Khaya Cekeshe gepeper het.

Dit nadat Lamola Maandag getwiet het: “Ons neem kennis dat die aansoek om verlof tot appèl en borgtog vir die #FeesMustFall-aktivis Khaya Cekeshe in die landdroshof in Johannesburg van die hand gewys is. Ons is besig om hom te help om vir presidensiële kwytskelding aansoek te doen.”

Ronald LamolaFoto: Jonathan Burton

Vroeër is berig hoe Cekeshe in Desember 2017 skuldig bevind is aan brandstigting, openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging en tot agt jaar tronkstraf gevonnis is waarvan drie jaar opgeskort is. Dit nadat videomateriaal gewys het hoe hy tydens ’n #FeesMustFall-optog in 2016 op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand ’n voorwerp by ’n polisievoertuig ingegooi het voordat dit aan die brand geslaan het.

Cekeshe se aansoek om appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis het Maandag misluk.

Lamola het Woensdag voor die portefeuljekomitee verskyn om onder meer verslag te doen oor sy departement se 2018-’19-jaarverslag. Hy is egter tydens ’n vraag-en-antwoordsessie oor sy twiet gelooi.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, wou by hom weet wat Suid-Afrikaners van sy twiet moet dink.

“Jy is die een wat verantwoordelik is vir die administrasie van justisie in Suid-Afrika. Jy het jouself daartoe verbind om die strafregstelsel reg te ruk en te laat werk.

“Ons sien daaglike protesoptogte waar daar geplunder word en waarvoor daar geen gevolge is nie. En die een keer dat die polisie hul werk reg doen en waar die stelsel funksioneer, is dít (die twiet) jou reaksie?”

Breytenbach wou ook weet hoe die nasionale vervolgingsgesag, die polisie en die regbank sy “oortuigende” verbintenis dat die strafregstelsel diegene wat die staatskas geplunder het aanspreeklik sal hou, ernstig moet opneem.

Werner Horn, ook ’n DA-LP, het gesê Lamola moet “as hy mense wil bystaan om aansoek te doen vir presidensiële kwytskelding of om hul misdaadrekord uit te wis”, hy eerder na sy private praktyk moet terugkeer.

“So ’n uitspraak is onvanpas vir die minister van justisie.”

Lamola het in reaksie hierop gesê hy ondermyn nie die strafregstelselprosesse of die regbank nie.

Volgens hom is Cekeshe se skuldigbevinding en vonnis ’n bewys dat die strafregstelsel werk. “Ons het nie by daardie prosesse ingemeng nie. Ek het ook nooit in die twiet gesê dat ons kwytskelding sal toestaan nie.”

Volgens Lamola het sy voorganger begin om #FeesMustFall-aktiviste met aansoeke vir presidensiële kwytskelding en die uitwis van misdaadrekords by te staan, en is hy ook daarvoor beskikbaar.

“Dit is iets wat die departement nog altyd gedoen het. Ons het reeds ’n aansoek van Cekeshe se prokureurs in dié verband ontvang. Ons moet dit nog bestudeer voordat ons besluit of ons die aansoek sal steun. Dit (kwytskelding) bly egter steeds die president se besluit.”

Volgens Lamola appelleer Cekeshe egter teen Maandag se uitspraak en moet daardie proses eers afgehandel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.