Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Land hou asem op vir #Vlak1

Alles dui daarop dat Suid-Afrika binnekort na vlak 1 van die staat van inperking sal beweeg, wat onder meer die opheffing van die aandklokreël en die herinstelling van internasionale reise kan behels.

Die verwagting is dat pres. Cyril Ramaphosa teen Woensdag of later die week die nasie sal toespreek oor die volgende stap in verband met die inperking.

Netwerk24 verneem kabinetsvergaderings is vir Dinsdag en Woensdag belê en die kabinet moet eers wysigings aan die regulasies goedkeur voordat ’n aankondiging daaroor gedoen kan word.

Ramaphosa het verlede week daarop gesinspeel dat vlak 1 van die inperking vandeesweek op hande kan wees.

Die presidensiële koördineringskomitee, wat onder andere uit premiers en ministers bestaan, het Dinsdag vergader.

Die regering moet die aandklokreël ophef sodat mense weer saans by restaurante kan gaan kuier.

In die verlede het hulle nog elke keer byeengekom kort voordat Ramaphosa ’n aankondiging gedoen het.

Verder het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wat verlede week al gesê het dat vlak 1 oorweeg word, Maandag in ’n verklaring gesê die gesondheidsdepartement het oorweeg om verskeie beperkings te verslap, onder meer in verband met die aandklokreël, verkope op alkohol, geloofsbyeenkomste en reis.

Die Covid-19-bevelsraad sou oor alles finale voorstelle aan die kabinet doen.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Getty Images

Volgens Mkhize word minder as 3 000 nuwe koronavirus-infeksies per dag sedert 22 Augustus in Suid-Afrika aangemeld. Daarteenoor is tussen 10 000 en 15 000 nuwe gevalle gedurende die piek in Julie aangemeld.

Intussen het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdag nuwe riglyne in die Staatskoerant gepubliseer.

Tyrone Seale, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, was Dinsdag baie geheimsinnig oor of die kabinet Woensdag die afskaling van die inperking sal oorweeg.

Al wat hy wou sê, is dat ’n aankondiging vooraf gedoen sal word “as en wanneer die president die nasie sal toespreek”.

Prof. Jannie Rossouw, verbonde aan die sakeskool van die Universiteit van die Witwatersrand, sê die regering kan nie tyd mors met die afskaling van die inperking nie omdat Suid-Afrika in ’n “baie diep resessie” is en die ekonomie kans moet kry om te herstel”.

“Die ekonomie moet groei. Die manier om daarmee te begin, is om die inperking te verslap en om op ’n verantwoordelike manier van oortollige regulasies ontslae te raak.”

John Steenhuisen, waarnemende DA-leier, het Woensdag in ’n verklaring ’n beroep op Ramaphosa gedoen om die aandklokreël en beperkinge op internasionale reis op te hef, alle sektore van die ekonomie te heropen en om skole normaal te laat funksioneer.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Getty Images

“Met die uitsondering van massabyeenkomste in beperkte ruimtes moet inperkingsmaatreëls in geheel en onmiddellik opgehef word. Die erge en verlengde inperking het die ekonomie, die lewenslyn van ons samelewing, in ’n ongekende krisis gedompel,” sê Steenhuisen.

Met sy beroep oor die heropening van skole, ontken die DA nie die risiko van ’n tweede vlaag infeksies nie, sê Steenhuisen. Maar hy glo dat die risiko van ’n diep en lang ekonomiese depressie ’n groter bedreiging inhou.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het in ’n verklaring gesê hy sou op Dinsdag se vergadering van die presidensiële koördineringskomitee aanvoorwerk doen ten gunste van die heropening van ekonomiese bedrywighede op grond daarvan dat die inwoners van die Wes-Kaap volgens hom bewys het dat hulle in staat is om persoonlik verantwoordelikheid te neem deur hul gedrag te verander.

“Ons fokus moet nou wees daarop om poste te red en ons moet ’n humanitêre krisis afweer. Ons moet dit (die verslapping van regulasies) nou doen en ons moet dit veilig doen om vooruit te kan beweeg.”

Wendy Alberts, voorsitter van die restaurantevereniging van Suid-Afrika, sê vanweë die afname in nuwe koronavirus-infeksies, maak dit nie sin om die restaurantbedryf langer as wat nodig is skade te laat ly nie. Die bedryf het veral te midde van die hoër vlakke van inperking swaargekry.

“Die regering moet die aandklokreël ophef sodat mense weer saans by restaurante kan gaan kuier. Buitelandse toeriste is ook belangrik vir baie fynproewer-eetplekke wat nie onderhou kan word deur die plaaslike mark nie.”

Suid-Afrikaners hou intussen hul asem op in afwagting van ’n aankondiging, en #Level1 was Dinsdag die top-hutswoord op Twitter in Suid-Afrika.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.