Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Landbou verwerp impakstudie oor onteiening

’n Maatskaplik-ekonomiese impakstudie wat onteiening sonder vergoeding in ’n positiewe lig stel, is deur die TLU SA en Agri SA verwerp.

Die studie, wat deur die departement van openbare werke saamgestel is, is Maandag deur Sakeliga gepubliseer.

Sakeliga het die verslag ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia-wet) verkry omdat die regering dit nie openbaar wou maak nie.

Die verslag is in 2019 gepubliseer om die invloed van onteiening sonder vergoeding uit te lig.

Agri SA sê in sy mediaverklaring dit blyk uit die verslag dat die bewering gemaak word dat die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) die wetsontwerp in sy geheel ondersteun het en ook dat Agri SA die wetgewing “versigtig ondersteun”.

Hierdie bewerings is onwaar.

Annelize Crosby, hoof van grond- en regsake van Agri SA, sê die organisasie het dit baie duidelik gemaak dat hy gekant is teen sekere aspekte van die wetsontwerp, veral die definisie van “onteiening”, wat die deur oopmaak vir allerlei beperkings op eiendomsreg sonder vergoeding (indirekte onteiening).

Agri SA was ook gekant teen nulvergoeding, sê sy.

TLU SA sê op sy beurt hy betreur die swak gehalte van die regering se impakstudie oor onteiening sonder vergoeding.

Die organisasie sê die verslag dui ook op die gebrek aan kundigheid in die staatsdepartement om belangrike inligting saam te stel en weer te gee.

“Ons probleem met die sogenaamde impakstudie is tweeledig,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.

Hy sê die inhoud van die verslag is onaanvaarbaar swak en tweedens verwys die studie na organisasies wat wel goedkeuring sou gee aan die beoogde onteieningswet.

Hy sê hoewel die verslag lui dat Agri SA die wet ondersteun, het Agri SA dit beklemtoon dat hulle gekant is teen onteiening teen nulvergoeding en indirekte onteiening.

“Selfs as dit waar sou wees dat Agri SA onteiening ondersteun, kan die regering nie net een landbou-organisasie se mening gebruik nie. TLU SA sal dit nooit aanvaar nie,” sê Geldenhuys.

Hy sê die regering se optrede wys hiermee net weer dat die toekoms van die land geen gewig dra in besluite nie. Dit gaan hier oor die deurvoer van ’n ideologie waar net sekere mense (kaders) bevoordeel word en die res in ellende moet voortsukkel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.