Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Landbou verwelkom Roelf se aankondiging

Drie groot landbou-organisasies het Donderdag positief reageer op die aankondiging van die landbou-ontwikkelingsagentskap van die organisasie In Transformation Initiative dat hy R12,9 miljard oor die volgende vyf jaar bewillig om veral opkomende en bestaansboere in die land te help.

Roelf Meyer. Foto: Jaco Marais
Netwerk24Foto: Jaco Marais

Oudminister Roelf Meyer, wat ’n kernrol in dié organisasie speel, het dié aankondiging Woensdag op die regering se tweede internasionale beleggingskonferensie in Johannesburg gemaak.

Meyer sê sowat 450 000 mense in landelike gemeenskappe sal na raming hieruit voordeel trek. Tot 300 000 werkgeleenthede kan hiermee geskep word.

Hy het aan Netwerk24 gesê 32 spesifieke projekte sal met dié geld gefinansier word. Die geld kom van verskeie bronne.

“Die grootste is ’n besproeiingskema by Vaalharts (in die Noord-Kaap). Dit is ’n gesamentlike projek tussen die private sektor en die staat.”

Daar is projekte in al nege die provinsies, sê Meyer.

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, het by navraag gesê Agri SA verwelkom enige finansiering wat tot voordeel van die landbousektor is en tot werkskepping sal lei.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai se direksie, sê dié organisaie verwelkom ook die inisiatief.

“Opkomende boere het elke sent nodig wat hulle kan kry om op die been te kom omdat hulle ernstig in die steek gelaat word deur die staat.

“Die grootste behoefte is aan toegang tot finansiering –­ veral omdat hulle nie hulle eie grond besit nie,” sê De Jager.

“Slegs diegene wat sterk politieke verbintenisse het, kry staatskenkings om mee te boer. Dit is daarom belangrik dat die nuwe agentskap polities onverbonde bly, en by die afgeskeepte boere uitkom wat geen ander heenkome het nie.

“Die staat se landboutegniese adviesdienste is in ’n jammerlike toestand, en so 'n agentskap kan ‘n sleutelrol speel om broodnodige raad en leiding aan opkomende boere te voorsien,” sê De Jager.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dié organisasie is positief oor enige inisiatief wat landbou in Suid-Afrika ten goede beïnvloed.

Hy sê die staat het erken dat meer as 90% van die grond wat reeds vir hervormingsdoeleindes oorgeneem is, nie meer in produksie is nie.

“Ons kan net die hoop uitgespreek dat in hierdie geval die regte ekonomiese beginsels van meet af aan toegepas sal word sodat daar volhoubare produksie is.”

Ons kan net die hoop uitgespreek dat in hierdie geval die regte ekonomiese beginsels van meet af aan toegepas sal word sodat daar volhoubare produksie is.

Meyer se aankondiging kom ’n week voor Landbouweekblad se tweede grondsimposium in Ceres in die Wes-Kaap.

Soos met die geskiedkundige eerste grondhervormingskonferensie in 2018 in Bela-Bela in Limpopo, sal daar op dié simposium gekyk word na praktiese oplossings vir grondhervorming.

Meyer sal een van die sprekers wees.

Daar sal gekyk word na maniere hoe kommersiële boere en die private sektor by grondhervorming betrokke kan raak om ekonomiese groei, werkskepping en maatskaplike harmonie te bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.