Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Landboukringe skepties oor grond-verslag

Daar is in landbougeledere skeptisisme oor die inhoud van die presidensiële raadgewende paneel se verslag oor grondhervorming wat vandeesweek aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is.

Ramaphosa en adj.pres. David Mabuza het Woensdag die verslag van dié paneel van tien lede ontvang.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Felix Dlangamandla

Die paneel is in September 2018 aangestel om die werk van die interministeriële komitee oor grondhervorming onder leiding van Mabuza te ondersteun. Dit moes die komitee oor ’n wye reeks beleidskwessies insluitend restitusie, die herverdeling van grond, verblyfsekerheid en landbou-ondersteuning adviseer.

Hulle het ook opdrag gekry om modelle vir die regering na te vors en te hersien vir die toepassing van ’n “regverdige en gelyke” grondhervormingsproses wat aandag gee aan die ongeregtighede van die verlede asook om landbouproduksie en voedselsekerheid te verhoog en ekonomiese groei te bevorder.

Dr. Vuyo Mahlati, ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskomitee en voorsitter van die African Farmers Association of South Africa (Afasa), het die paneel gelei. Die ander lede was adv. Tembeka Ngcukaitobi van die Johannesburgse balieraad, Bulelwa Mabasa, ’n prokureur, Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer, Agbiz, prof. Mohammed Karaan van die Universiteit Stellenbosch, prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland, dr. Thandi Ngcobo van die Universiteit van KwaZulu-Natal, Dan Kriek, president van AgriSA, Thato Moagi wat in die Wes-Kaap en Limpopo boer, en Nick Serfontein, ’n boer van die Vrystaat.

Kriek en Serfontein het vroeër vir omstredenheid gesorg toe hulle ’n minderheidsverslag oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding aan Ramaphosa gestuur het omdat hulle “weier om ’n amptelike verslag in dié verband te onderteken”.

Dan Kriek

Kriek, wat Donderdag om kommentaar genader is, het aangedui dat AgriSA Vrydag ’n verklaring sal uitreik.

Die landbou-organisasie TLU SA het op sy beurt gesê hy is “baie skepties” oor die verslag en koester geen hoop oor die inhoud daarvan nie.

Henk van de Graaff, voorsitter van TLU SA se eiendomsregkomitee, het in ’n verklaring gesê die landbou-organisasie is nie die geleentheid gebied om enige insette daarin te lewer nie, terwyl hy etlike jare gelede al sy plan vir volhoubare landbou bekend gestel het.

“Die feit dat daar ’n minderheidsverslag saamgestel is –ook vanuit georganiseerde landbou omdat ook hul insette nie vervat is in die finale verslag nie – versterk die vermoede dat hierdie verslag net ’n eggo is van die regering se sosialistiese standpunte, sonder om die aktiewe landbougemeenskap se voorstelle te oorweeg. Daarom gaan dit waarskynlik weer eens meer van ’n polities-ideologiese dokument wees, eerder as ’n ekonomiese dokument wat op groei fokus,’’ lui Van de Graaff se verklaring.

Ramaphosa het in ’n verklaring gesê die verslag is ’n belangrike stap vorentoe om die erfsonde reg te stel deur oplossings te ontwikkel wat nie net eie aan Suid-Afrika is nie, maar meer belangrik, om ’n samelewing bou waarin almal kan deel in die rykdom van die land.

Die verslag van die raadgewende paneel gaan eers aan die kabinet voorgelê word voordat die bekend gemaak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.