Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lang proses voordat OB geskors kan word, moet nog begin

Die vraag of Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), gaan bly of uit haar amp verwyder gaan word, word wyd gedebatteer.

Daar is egter ’n paar dinge wat moet gebeur voordat die parlement kan besluit oor die OB se lot.

Die eerste stap is Dinsdag geneem nadat John Steenhuisen, DA-hoofsweep, se versoek aan die parlement om die OB uit haar amp te verwyder, uiteindelik by die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste beland het.

Beteken dit die parlement het ingestem om die OB te verwyder?

Nee, en die proses is ook nie begin nie.

Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het Dinsdag slegs na Steenhuisen se versoek verwys en dat die saak deur die reëlskomitee voortgesit kan word.

Hoewel die amptelike proses nog nie begin het nie, toon dit vordering aangesien die vorige twee versoeke, ook deur die DA, deur die komitee gestop is.

Hoekom moet die reëlskomitee dit hanteer?

Op die oomblik het die parlement nie reëls oor die proses om die hoof van ’n hoofstuk 9-instelling soos die OB of die ouditeur-generaal uit hul poste te verwyder nie. Die komitee gaan nou reëls saamstel wat enige hoof van hoofstuk 9-instellings kan verwyder.

Mkhwebane het vroeër in ’n brief aan Thandi Modise, speaker in die parlement, gesê sy gaan die hof nader indien die parlement stappe neem om haar te verwyder aangesien daar nie reëls hieroor is nie.

Dít was nadat Modise die saak na die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste verwys het.

Lê die besluit by die parlement om die OB te verwyder?

Ja, volgens die Grondwet het die Nasionale Vergadering volmag om ’n OB te verwyder.

Afdeling 194 van die Grondwet verwys na die verwydering van ’n OB: “Die OB mag slegs uit sy of haar amp verwyder word op grond van wangedrag, onbekwaamheid, en ’n besluit deur ’n komitee deur die Nasionale Vergadering om die persoon te verwyder.”

Die besluit moet deur ’n tweederdemeerderheid van die Nasionale Vergadering ondersteun word. Indien suksesvol, moet die president die OB verwyder.

Die Grondwet spesifiseer geensins hoe dit gedoen moet word nie. Dit dui egter aan dat die parlement self hieroor kan besluit.

Hoekom is die saak voor die parlement?

Die DA, wat gekant was teen Mkhwebane se aanstelling in 2016, glo sy is nie bekwaam genoeg vir die amp nie. Die party het versoek dat stappe om haar te verwyder, in plek gestel moet word.

Wat nou?

Eerstens moet die reëlskomitee ’n konsep saamstel oor die proses wat gevolg moet word om die hoof van ’n hoofstuk 9-instelling te verwyder. Dié konsep moet dan deur die Nasionale Vergadering goedgekeur word.

Daarna word dit weer verwys na die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste of ’n ad hoc-komitee, indien die reëlskomitee so besluit.

Die komitee wat die saak hanteer, sal dan besluit of ’n ondersoek ingestel moet word na die OB. Daarna sal die proses, waaroor nog besluit moet word, volg.

Terwyl dit nog nie seker is wat die proses behels nie, sal Mkhwebane waarskynlik ’n geleentheid kry om haarself te verdedig. Die Grondwet bepaal verder die president kan ’n OB enige tyd ná ’n komitee van die Nasionale Vergadering die proses begin het om die OB te verwyder, skors.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Parlement  |  Ob  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.