Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lasbrief vir Zuma wys regstelsel is billik

Die lasbrief wat uitgereik is vir die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma is ’n belangrike aanduiding vir alle Suid-Afrikaners dat die land se regstelsel steeds billik en regverdig is.

Só sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, toe sy party, net soos die DA, die lasbrief verwelkom het wat regter Dhaya Pillay in die hooggeregshof in Pietermaritzburg vir Zuma se inhegtenisneming uitgereik het omdat die oudstaatshoof om beweerde mediese redes nie vir sy korrupsiesaak opgedaag het nie.

Pillay het adv. Billy Downer, vir die staat, gelyk gegee dat Zuma se “siekbrief” nie sê wat fout is met hom nie; die datum daarop oënskynlik verander is, die brief beskryf word as ’n “farmaseutiese afskrif” én dit onduidelik is of die persoon wat dit onderteken het, wel ’n dokter is.

Die korrupsiesaak teen Zuma is tot 6 Mei uitgestel.

Die lasbrief staan oor tot dan.

Dit sal uitgevoer word as Zuma dan nie by die hof opdaag nie.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste, sê die DA is bly dat die hof sy voet dwars gesit en Zuma gewys het dat hy nie langer kan aanhou om die hof se tyd en hulpbronne te mors nie.

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, sê die lasbrief is nie “vreemd” vir iemand wat nie vir ’n hofverskyning in strafverhore opdaag nie.

Volgens Curlewis het Zuma nou tot 6 Mei om hof toe te gaan en die regter te oortuig van sy redes oor waarom hy nie gister by die hof was nie.

Dr. Collette Schulz-Herzenberg, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, sê die lasbrief wys aan die publiek – “wie se vertroue in politici en ons demokratiese instellings reeds baie laag is” – dat die wiele van geregtigheid stadig maar seker draai.

Hy word vervolg en geviktimiseer. Dit gaan nie oor die regspleging of om hom te beveilig om hof toe te kom nie. Hierdie is viktimisering, hierdie is vervolging.

Dan Mantsha, Zuma se regsverteenwoordiger, het ná die hofverrigtinge aan joernaliste gesê die lasbrief is onregverdig, berig News24.

“Hy word vervolg en geviktimiseer. Dit gaan nie oor die regspleging of om hom te beveilig om hof toe te kom nie. Hierdie is viktimisering, hierdie is vervolging.”

Mantsha het gesê Zuma se breër regspan sal die regter se besluit bespreek en dan op hul volgende stap besluit.

Pillay het gesê Zuma kan nie verwag dat die hof hom anders as enigiemand anders moet behandel nie en die vraag is of sy “kommerwekkende” afwesigheid verskoonbaar is.

Sy het die siekbrief as “onvoldoende en vaag” beskryf.

Pillay het gesê volgens Mantsha word sy kliënt in die buiteland behandel.

In ’n poging om sy behandeling te staaf, het sy regspan ’n dokument by die hof ingedien wat “medies vertroulik” en ’n “farmaseutiese afskrif” is; daar is ’n afkorting “HCP” daarop wat sy regspan nie kan verduidelik nie; daar word genoem dit is ’n “leke-prognose” en die datum op die dokument is verander sonder dat dit geparafeer is.

Mantsha het gesê Zuma is by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria behandel alvorens hy in Januarie vir die tweede keer na die buiteland is vir behandeling.

Downer het gesê ’n mens weet nie of Zuma siek is nie.

“Die feit is, hy is nie by die hof nie. Sy verdediging sê Zuma is hier in die land behandel en geopereer.

“Daar moet mediese inligting hieroor beskikbaar wees,” het Downer gesê.

Mantsha het gesê hy “weet nie of hy reg gehoor het” dat ’n mediese sertifikaat met ’n oorspronklike stempel daarop van 1 Militêre Hospitaal nie aanvaarbaar is nie.

Mantsha het bygevoeg Zuma is nou weer in die buiteland vir behandeling.

Dit “is algemene kennis dat Zuma in Oktober vir ’n week in die hospitaal was en nie die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping kon bywoon nie”.

In laat November het sy mediese span besluit om hom uit die land te neem vir behandeling. Zuma het in Desember teruggekom na Suid-Afrika met die doel om weer terug te keer na die plek waar hy oorsee behandel word.

Mense kan dit nie verhelp om siek te raak nie. Hy is ’n bejaarde man van byna 80 jaar oud.

Zuma het op 7 en 9 Januarie twee operasies ondergaan en hy kon nie soos vroeër die plan was toe buiteland toe gaan vir sy behandeling nie. Hy is wel later dié maand weer na die buiteland, het Mantsha gesê.

“Mense kan dit nie verhelp om siek te raak nie. Hy is ’n bejaarde man van byna 80 jaar oud.

“Ons weet dat ons oupas en oumas van daardie ouderdom siek raak,” het Mantsha gesê.

Siekbrief vol gate

* Dit verstrek nie Zuma se siekte nie.

* Zuma se regspan kon nie verduidelik wat “farmaseutiese afskrif” beteken nie.

* Hulle kon ook nie verduidelik wat die letters HCP daarop beteken nie.

* Dit noem dat dit ’n “leke-prognose” is wat gemaak is.) Die datum op die mediese sertifikaat is verander en die verandering is nie geparafeer nie.

* Dit is ook nie duidelik of die ondertekenaar van die brief ’n geregistreerde dokter is of nie.

Dan Mantsha, Zuma se prokureur, sê dit is ’n dokument van die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria.

* Die regter kan dit nie in twyfel trek nie.

* Die dokter wat die siekbrief onderteken het, is saam met Zuma in die buiteland waar hy behandeling ontvang, en is daarom nie in die hof om daaroor te getuig nie.

* Hy kan nie glo dat ’n mediese sertifikaat met ’n militêre stempel daarop nie aanvaarbaar is nie.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Dan Mantsha  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.