Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Leefstyloudits wag op premier, topbestuur in O-Kaap
Oscar Mabuyane
Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap. Foto: Argief

Leefstyloudits sal op die Oos-Kaapse premier, topbestuurders in die provinsie, asook hul eggenote en nabye familielede gedoen word.

Die oudits is sodat die amptenare se inkomstebronne vasgestel kan word, het Oscar Mabuyane, die premier, Dinsdag op ’n mediakonferensie oor die provinsie se vordering in sy stryd teen die koronaviruspandemie gesê.

Hy het ook genoem dat die name van die maatskappye wat vir die verkryging van persoonlike beskermende kleredrag gebruik is, gepubliseer sal word.

Volgens Mabuyane is die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) reeds genader om die oudits te doen.

“Dit is een van die meganismes wat ingestel word om korrupsie uit te roei en te voorkom,” het hy gesê.

Die premier, LUR’e, direkteurs-generaal, departementshoofde, finansiële hoofde en alle hoofdirekteurs en senior amptenare in die voorsieningskettingbestuurseenhede van die provinsie sal geoudit word.

Op lang termyn sal die oudits ook op munisipale amptenare van toepassing wees.

Dit sal ook die sluier lig oor wie uit die transaksies voordeel trek, omdat daar ’n persepsie is dat dit die regeringsleiers se familielede en hul vriende bevoordeel.

Mabuyane het ’n beroep gedoen op samewerking en eerlikheid gedurende die proses en bygevoeg dat elkeen se eggenoot en nabye familielede geoudit gaan word.

Die Oos-Kaap se regering het onlangs onder skoot gekom toe aantygings gemaak is oor korrupsie wat die verkryging van beskermende kleredrag en die verskaffing van nooddienste gedurende die pandemie betref.

Dit sluit ’n Covid-19-bewusmakingsveldtog van R4,8 miljoen in wat glo in die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit gehou is.

Mabuyane het gesê daar is ook vrae rondom die maatskappye wat deur die provinsiale regering vir die verkryging van toerusting gebruik is. Daar is aantygings dat van die maatskappye bande met politici of hul familielede het.

Sedert April het die provinsiale regering meer as R582 miljoen aan beskermende kleredrag, opknappingswerk aan gesondheidsgeriewe en voorsiening van noodvoorraad bestee.

Die maatskappye se name en dié van hul direkteurs is op die provinsiale tesourie se webtuiste gepubliseer om ’n kultuur van deursigtigheid te bevorder, het Mabuyane gesê.

Dié proses sal voortaan gehandhaaf word in transaksies wat die provinsiale regering met maatskappye aangaan.

“Hiermee sal die publiek elke sent wat ons bestee, kan volg. Dit sal ook die sluier lig oor wie uit die transaksies voordeel trek, omdat daar ’n persepsie is dat dit die regeringsleiers se familielede en hul vriende bevoordeel.”

Mabuyane het bekend gemaak dat 497 uit die 611 diensverskaffers wat hoofsaaklik aangestel is om persoonlike beskermende toerusting te bekom in die Oos-Kaap is.

“Een van die dinge wat ons bekommer, is dat van die maatskappye op die lys dalk die goedere wat hulle verskaf, koop by maatskappye wat buite die provinsie is. Dit werk ons plaaslike ontwikkelingsagenda teen.”

Die premier het gesê dit lyk asof die provinsie moontlik gouer as verwag uit die kloue van die pandemie sal wees.

Minder as 1 000 nuwe infeksies is die afgelope twee weke per dag in die provinsie aangemeld, en laboratoriums kan 90% van resultate binne 72 uur lewer.

Tot dusver is 82 578 infeksies in die Oos-Kaap aangemeld, terwyl 2 266 mense aan Covid-19 dood is. Daar was teen Dinsdag 2 773 aktiewe gevalle en ’n herstelkoers van 93% in die provinsie.

“Die syfers dui daarop dat die einde van ons nagmerrie dalk nader is as wat voorspel is. Ons nader die plato en maak die kurwe gelyk danksy al die werk deur rolspelers, werkers en ons maatskaplike vennote.”

Die Oos-Kaap se stryd teen die virussiekte is verder verskerp deur tien Kubaanse dokters wat die naweek in die provinsie ontplooi is.

Boonop het Mercedes-Benz Suid-Afrika ook Dinsdag vier motors vir veldwerkers asook beskermende kleredrag, wat gesigskerms, -maskers en handreinigers insluit, aan die provinsiale regering geskenk.

Mabuyane het gesê 85 gesondheidswerkers in die provinsie is aan Covid-19 dood, terwyl meer as 5 000 tot dusver positief vir die koronavirus getoets is.

“Dit noodsaak ons om die beskerming van (gesondheidswerkers) te prioritiseer. As ons dit nie doen nie, sal daar ’n ramp in ons hospitale wees met geen gesondheidswerkers wat die siekes kan versorg nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.