Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Leer by Afrikaners, pleit jong swart sakevrou

Swart Suid-Afrikaners kan waardevolle lesse oor ekonomiese bemagtiging leer by Afrikaners, wat hulself in die vorige bedeling gespeen het van afhanklikheid van die staat.

Nano Mothibi

Dit was die reaksie van Nano Mothibi, ’n sakevrou en lid van die Black Management Forum (BMF) se Young Professionals, ná ’n paneelbespreking oor die mislukkings van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) die afgelope week.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, Mzwanele Manyi van die African Transformation Movement (ATM), Duma Gqubule, stigter van die sentrum vir ekonomiese ontwikkeling en transformasie, en Zodwa Ntuli, kommissaris van die Kommissie vir Breë­basis- Swart Ekonomiese Bemagtiging, was onder die sprekers wat almal redes aangevoer het waarom hulle glo SEB het misluk.

Mothibi (40), ook ’n selfgepubliseerde skrywer, werk tans aan ’n tweede boek oor hoe die Afrikanerdom ná die Anglo-Boereoorlog uit die as uit opgestaan het.

Hoewel al die paneellede erg krities was oor die regering se SEB-beleid, wissel hul voorstelle vir wat in die plek van SEB moet kom, drasties.

Volgens Roets het swart ekonomiese bemagtiging niks te doen met bemagtiging nie. Dit is ’n immorele, destruktiewe beleid wat geleenthede herverdeel op ’n rassegrondslag. “Dit fokus nie op produksie of hoe om die ekonomie te vergroot nie. Dit maak swart mense afhanklik van die regering en dít is die teenoorgestelde van bemagtiging.”

‘Ons wil blom daar waar ons geplant is.’

Volgens Roets veronderstel ’n beleid van SEB dat alle swart mense arm en alle wit mense ryk is. “Om die waarheid te sê: dit berus op die aanname dat selfs arm wit mense bevoordeel is en dat swart miljoenêrs benadeel is.”

Manyi, ’n voormalige direkteur-generaal in die departement van arbeid, regeringswoordvoerder en oudpresident van die BMF, het gesê SEB het misluk omdat die mense wat die meeste daarby baat dikwels wit adviseurs is wat die transaksies saamstel en bemiddel. “En die maatskappybase wie se geld in die bank sit. En jy as bemagtigde sit met R100 miljoen se skuld. Jy is die armste man en jy moet uiteindelik jou belang opgee, want jy kan nie jou skuld betaal nie.

“En dan probeer maatskappye die regering oortuig dat hulle ’n beleid van ‘eens bemagtig, altyd bemagtig’ moet aanvaar. Ons is verkul en ons is terug net waar ons begin het.”

Die beginsel van “eens bemagtig, altyd bemagtig” was veral in die mynbedryf die onderwerp van verwoede hofgevegte. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in 2017 beslis dat die houers van mynregte hul bemagtigingstatus behou selfs al verkoop hul bemagtigingsvennoot hul aandeel in die maatskappy wat die houer van die mynlisensie is.

Die minister van minerale hulpbronne en energie het aangevoer dat ’n mynreghouer voortdurend moet sorg dat 26% van hul aandele in die besit is van voorheen benadeelde Suid-Afrikaners, en dus eindeloos moet aanhou bemagtig, met erg nadelige gevolge vir bestaande aandeelhouers. Die hof het egter bevind die houer van die mynboulisensie het geen plig om die bemagtigingsvlak ten duurste voortdurend in stand te hou wanneer die bemagtigingsvennoot onttrek nie.

Net soos Manyi, sê Gqubule ook dit is ’n onding en stel maatskappye in staat om aan te voer hulle het swart eienaarskap selfs tien jaar nadat ’n bemagtigingstransaksie aangegaan is, selfs al is daar nie meer betekenisvolle swart aandeelhouding nie.

“Dit beteken daar is uiteindelik ’n reuseverskil tussen werklike swart eienaarskap en swart eienaarskap ten opsigte van die telkaart van swart ekonomiese bemagtiging.”

Ntuli het gesê die huidige regulatoriese raamwerk vir SEB is gebrekkig en regulering moet onder meer verskerp word om te keer dat swart mense as kunsmatige “fronte” vir bemagtiging voorgehou word (fronting).

In vraetyd het Kabelo Kgobane, ook ’n lid van die BMF se Young Professionals, gesê sy en ander jong swart beroepslui stel hulle dit ten doel om hul gemeenskappe op te hef. “Ons gaan nie vir julle wag om vir ons die teks te gee nie.” Kgobane sê hulle werk saam met AfriForum-jeug aan verskeie projekte. “Die werk het reeds begin. Ons wil blom daar waar ons geplant is.”

Intussen het Kgobane en Mothibi ’n afspraak met AfriForum se Roets om oor nouer samewerking te beraadslaag.

“Ek wil hoor hoe ons soos die Afrikaners destyds onsself ekonomies kan help,” het Mothibi aan Rapport gesê.

Meer oor:  Ernst Roets  |  Afriforum  |  Seb  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.