Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lekgotla trek streep oor inmenging by SOE’s
Pres. Cyril Ramaphosa sluit Maandag vroegaand die ANC se lekgotla in Irene buite Pretoria af. Foto: Sarel van der Walt

In die toekoms sal daar slegs politieke inmenging by staatsondernemings wees ten opsigte van strategiese sake en wanneer daar wanadministrasie in dié ondernemings is.

Só het pres. Cyril Ramaphosa vroeg Maandagaand met die afsluiting van die ANC se jaarlikse lekgotla in Irene buite Pretoria gesê.

“Die lekgotla het saamgestem dat ministers hulle voortaan nie by die direksies van staatsondernemings inmeng nie,” het Ramaphosa gesê.

Daar was die laaste ruk baie kritiek van binne en buite die ANC oor die rol wat veral Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, by onder meer Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) speel.

Die lekgotla het saamgestem dat ministers hulle voortaan nie by die direksies van staatsondernemings inmeng nie.

Dit is ongewoon dat die media by die ANC-president se toespraak aan die einde van ’n lekgotla toegelaat word. Daar word bespiegel dat hy wou voorkom dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, soos verlede jaar ná ’n vergadering van die NUK op ’n mediakonferensie sy eie weergawe gee van wat op die vergadering besluit is.

Oudpres. Kgalema Motlanthe het ook die lekgotla bygewoon.

Baie aandag is op die lekgotla gegee aan staatsondernemings, die ekonomie in die geheel, ’n doeltreffende staat en die verbetering van plaaslike regering om beter dienslewering te verseker, het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê die lekgotla het besluit dat sommige van die meer as 740 staatsondernemings in die land saamgevoeg en ander gerasionaliseer word.

“Die lekgotla het ook besluit staatsondernemings en al drie regeringsvlakke moet versterk word.”

Die president sê die kwessie van die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is ook bespreek.

Volgens hom moet meer moet gedoen word om die ANC se besluit (op sy nasionale konferensie in 2017 in Johannesburg) dat onteiening sonder vergoeding moet gebeur te verduidelik.

Vroue moet die middelpunt van die grondhervormingsdebat wees. Hulle moet ook ’n groter rol in die ekonomie speel.

Die besluite wat hier geneem is, sal nou op die komende kabinetslekgotla verder bespreek word, het hy gesê.

“Baie mense het verwag dat hier ’n chaos en ontwrigtings met bekgevegte sou wees en mense sou uitstap of betoog. Ek het slegte nuus vir dié mense. Daar was nie,” het hy onder applous aan die afgevaardiges gesê.

Baie mense het verwag dat hier ’n chaos en ontwrigtings met bekgevegte sou wees en mense sou uitstap of betoog. Ek het slegte nuus vir dié mense. Daar was nie.

“Die vergadering het eerder ’n boodskap van eenheid uitgestuur en dat ons in die belang van alle Suid-Afrikaners optree.

“Daar was robuuste gesprekvoering en positiewe debatte. Die lekgotla was verrykend en opbouend, en ons het reguit gepraat oor die uitdagings wat die land in die gesig staar.

“Die ANC sal van nou af een boodskap uitstuur deur die baie stemme wat ons het,” het Ramaphosa gesê.

Die party sal in die toekoms ook sy openbare verteenwoordigers streng keur en seker maak hulle kom hul pligte na.

“Uit al die kommissie-verslae wat ek gehoor het, is dit duidelik daar is by almal in die ANC ’n verbintenis om hard te werk aan al die uitdagings en die ANC se planne duidelik en samehangend oor te dra,” het Ramaphosa gesê.

Die lekgotla is deur ’n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) voorafgegaan.

Ramaphosa, wat ná sy toespraak aan Netwerk24 erken het dat hy ná die laaste vier dae se vergaderings moeg is, het gesê dit was ’n uitstekende lekgotla.

Meer oor:  Staatsondernemings  |  Cyril Ramaphosa  |  Lekgotla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.