Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lekota getakel ná gronddebat by Kovsies
Mosiuoa Lekota, Cope-leier in Suid-Afrika, besig om sy standpunt oor grondhervorming te verduidelik.. Foto: Mlungisi Louw
Lacea Loader: direkteur: kommunikasie en bemarking van die Universiteit van die Vrystaat (UV,) help hier om Mosiuoa Lekota, leier van Cope in Suid-Afrika, na veiligheid te bring. Foto: Mlungisi Louw

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, moes Donderdag deur veiligheidspersoneel na veiligheid gebring word ná ’n debat op die Kovsie-kampus waarin hy andersdenkende studente met sy uitsprake oor grond en landbou omgekrap het.

Lekota het op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aan ’n sogenaamde “denkleiersdebat” oor politiek en grondhervorming deelgeneem.

Lede van die gehoor was ontstoke oor van sy uitlatings en het hom onder meer ’n verraaier (sell-out) genoem en daarvan beskuldig dat hy “sy eie geskiedenis opmaak”.

Dit was kort nadat hy gesê het “voorstanders van die terugneem van grond sonder vergoeding gaan die land verwoes”.

Hy moes uiteindelik deur sekuriteitspersoneel na veiligheid gebring word en het by ’n sydeur uitgeglip.

“Daardie mense verstaan nie die Grondwet waaroor op Kodesa onderhandel is nie: Dat mense nou toegelaat word om op enige plek in die land te bly en dat almal dieselfde regte volgens hul burgerskap het,” het hy in die bespreking gesê.

“Vat 50 kommersiële boere uit Suid-Afrika weg en die gevolge sal katastrofies wees, omdat bekende kettinggroepe, kafees in townships en straatsmouse nie daagliks meer vars melk, vrugte en groente sal kan verkoop nie.”

Die studente en ander toehoorders pak hier vir Mosiuoa Lekota, Cope-leier, op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) oor sy standpunt oor grondhervorming. Foto: Mlungisi Louw
EFF-ondersteuners en studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het vir Mosiuoa Lekota, Cope-leier, op die Kovsie-kampus gekonfronteer oor sy siening oor grondhervorming.Foto: Mlungisi Louw

Hy het ook gesê trekkers op plase sal staan en verroes.

Nadat Lekota hom uit die gespreksessie verskoon het, het ’n klomp studente en ander lede van die gehoor, van wie baie EFF-klere gedra het, hom gepak.

Thabo Lekhu, ’n regstudent, het gesê: “Lekota kan nie hier gemors kom praat en verwag om soos ’n enjin te vertrek nie.”

Lekota het tydens die debat gesê “groot flaters” gaan begaan word as art. 25 van die Grondwet alleen gelees en verander word, pleks daarvan om na die Grondwet in sy geheel te kyk.

Hy het gesê die ANC-regering se onvermoë om die Grondwet toe te pas en dat die regering weens sy onvermoë en korrupsie daarin misluk het om van grondhervorming ’n sukses te maak, kan nie nou ’n rede wees om die Grondwet te wil verander nie.

Die staat sit met meer as 4 000 plase, “maar het iemand al gaan vra om op daardie plase te mag boer?”

“In artikel 26 van die Grondwet staan ook dat almal die reg op geskikte behuising het. Dit is die staat se verantwoordelikheid om met progressiewe bemagtiging te help dat mense, wat in die verlede behuising geweier is, behuising kry.”

Vyf sprekers het op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aan ’n debat oor politiek en grondhervorming deelgeneem. Van links is Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, Lynette Francis, TV-aanbieder wat die gespreksleier was, Kgotso Morapela, Vrystaatse EFF-leier, Annette Steyn, DA-LP, Mosiuoa Lekota, Cope-leier, en Wouter Wessels, onderleier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Hy het gesê die Grondwet maak reeds daarvoor voorsiening dat grond in sekere gevalle van openbare belang onteien mag word.

“Ons wil die land van sy verlede gesond maak en nie nuwe rassespanning skep nie.”

* Kgotso Morapela, Vrystaatse EFF-leier, het gesê “alles in die land gaan oor grond en die ekonomie is grond. Dit is verkeerd dat wit mense, wat die minderheidsgroep is, 72% van die grond besit, terwyl die arm massas, en diegene wat in plakkerskampe bly, grondloos is.

“Daarom moet alle grond, sonder vergoeding, teruggevat word en aan die staat behoort sodat dit van die staat gehuur kan word.”

* Annette Steyn, DA-LP, het gesê die kritieke vraag is of die ANC genoeg vertrou kan word om eienaarskap van alle grond oor te neem. “Boere sal nie in plase belê as hulle nie meer eienaars daarvan is nie en banke sal ook nie lenings aan hulle toestaan nie.”

Sy het gesê die ANC-regering was tot vandag nie ernstig genoeg met grondhervorming nie omdat hy jaarliks R2,9 miljard in sekuriteitsdienste vir belangrike mense pomp, wat meer is as die R2,7 miljard vir grondhervorming.

* Wouter Wessels, onderleier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, het gesê uit die wêreldgeskiedenis blyk dit dat regerings grond gebruik om politieke mag te bekom en uit te oefen. “Die meerderheid Suid-Afrikaners stel eerder in welvaart belang as om te boer.”

* Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, het gesê die “terugneem van grond sonder vergoeding” trek net die aandag af van die werklike kwessies rondom grondhervorming. “Nie almal wil boer nie. Verstedeliking neem by die dag toe en die groot uitdaging gaan wees om stedelike gebiede só te transformeer dat weggedoen word met die apartheidsontwikkelings wat op ras gegrond was.”

Meer oor:  Mosiuoa Lekota  |  Kovsies  |  Gronddebat  |  Grond  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.