Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lesufi: Tenders is vir ‘my mense’

Armoede onder “sy mense” sal iets van die verlede wees as slimmer te werk gegaan word om voordeel te trek uit miljarde rande se tenders by staatskole in Gauteng, het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, op ’n vergadering met sy span in Tshwane gesê.

City Press, Rapport se susterkoerant, het ’n opname van die vergadering bekom.

Panyaza Lesufi Foto: Gallo

In die opname kan gehoor word hoe Lesufi sê as LUR is dit sy verantwoordelikheid om seker te maak tenders maak sy mense “tevrede” en elke skool in die provinsie kry minstens R3 miljoen per jaar van die staat. Amptenare moet daarom seker maak hulle hoor betyds wanneer beheerliggame tenders adverteer.

“As comrades sê ek nou vir julle as ek julle moet bystaan om sake te doen met die departement, dit is beheerliggame wat met skoolsake werk. Ek pleit by julle, comrades, om vergaderings te belê met streekbeheerliggame sodat, wanneer hulle adverteer vir mense om te bie, hulle moet adverteer op hierdie WhatsApp-groep, want as ek inmeng in daardie kwessies, sal ek daarvan beskuldig word dat ek by hul sake inmeng.

“Sekere beheerliggame vra kwotasies van hul ooms en familielede, en ek sê nou vir julle, julle moet daarvan weet en betrokke wees.”

Lesufi benadruk die indruk mag nie gewek word dat hy tenderprosesse manipuleer nie.

“Wanneer daar ’n klagte is oor ’n sakekwessie kom die klagtes na my toe, maar wanneer daar tenders is, word daar vir ons gesê die LUR’e behoort nie betrokke te wees nie omdat tenders deur amptenare hanteer word. Wanneer amptenare verbrou, is ek die een wat in die moeilikheid beland. Ek erken dit is dalk nodig dat julle sake doen met die departement, maar daar is geen duidelike patroon nie. In ons databasis probeer ons ’n manier vind om die kwessie van tenders te hanteer. Selfs al kan jy ’n hele alfabet langs jou maatskappy skryf wat ’n bod insit vir ’n tender, sal ek weet dat daardie mense in die databasis is en ons kan dit nagaan. Ek werk nou saam met die departementshoof (Edward Mosuwe), en ek sê vir hom dat hy nie dinge moet doen wat probleme veroorsaak vir ons mense en vir onsself nie.

“Ek het vir hom gesê vir my om ’n LUR te wees moet ons mense tevrede wees en daar moet na hulle gekyk word. Die mense in die databasis sal elektrisiteit regmaak en (aan) ander projekte (werk).”

Lesufi het sy kollegas vertel beheerliggame sal hulle nie uit eie beweging waarsku dat ’n tender op pad is nie, en daarom moet hulle hul huiswerk doen, want baie geld is op die spel.

‘Sekere skole vra kwotasies van familie.’

Die Gautengse onderwysdepartement se begroting vir 2021-2 is R53,4 miljard.

“Geen skool kry minder as R3 miljoen per jaar in Gauteng nie, en wanneer jy bereken dit is R1 077 per kind, bereken dan hoeveel geld die skole kry. My advies aan julle as julle nodig het om deel te neem aan tenders binne die departement, is dat julle beheerliggame moet mobiliseer, en daar behoort ’n kalender te wees met alle projekte,” sê hy.

“Ons kan nie geld aan die beheerliggame gee wetende dat hulle die geld sal wanbestee nie, en ons moet ’n enkele datum bepaal vir skole waarop hulle handboeke koop sodat hulle daarvan kan weet.”

Hy voeg by as die R3 miljoen vir elke staatskool in die provinsie gekombineer sou word, sal armoede onder sy mense iets van die verlede wees, solank as wat dit behoorlik georganiseer word. “Ons het geld aan die beheerliggame gegee om papier, brandstof en ander dinge aan te koop, maar julle moet julself organiseer en hulle mobiliseer om vir julle sake te gee. Julle ken die mense wat beheerliggame beheer, want van hulle woon tussen julle, en ek sal ook bystand kan verleen in dié verband.”

Lesufi, op wie se wagbeurt R432 miljoen verlede jaar binne drie maande op die “ontsmetting” van Gautengse staatskole vermors is, het Vrydag aan City Press ontken dat die vergadering ’n politieke vergadering was.

“Dit was ’n gemeenskapsvergadering van beheerliggame, die ANC-jeugliga, studenterade, skoolhoofde, Sanco, sakelui ensovoorts wat regeringsprojekte ontwrig het. Ons het verduidelik hoe skoolprojekte geadverteer en beoordeel word. Die skool waar die vergadering gehou is, was sonder elektrisiteit en ek was daar om die gemeenskap te versoek om die diensverskaffer toe te laat om die probleem op te los.”

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Nepotisme  |  Tenders  |  Skole  |  Tenderprosesse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.