Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lid sê ANC het bruin mense ‘honde’ genoem

’n Rasseherrie het uitgebreek nadat die naweek op die ANC se Weskus-streekkonferensie glo na bruin mense as “’n klomp honde” verwys is.

Sammy Claassen, ’n ANC-raadslid van die Bergrivier-munisipaliteit, het die party by die Menseregtekommissie gaan verkla nadat hy aanstoot geneem het oor die opmerkings wat glo op die konferensie gemaak is.

Sammy Claassen, ANC-raadslid in die Bergrivier-munisipaliteit. Foto: Facebook

Buiten die neerhalende opmerking is ook vryheidsliedjies teen die Khoisan gesing en na bewering is gesê dat bruin mense nie op die konferensie welkom is nie, beweer Claassen.

Die ANC se Weskusstreek het Claassen in ’n verklaring skerp gekritiseer en ’n beroep op hom gedoen “om sy voortdurende sosialemediaveldtog oor rassepolarisasie te beëindig”.

“Dit gaan te lank aan en as hy nie ophou nie, sal die ANC geen ander keuse hê as om tugprosesse in te stel en sy lidmaatskap op te skort nie.”

Claassen het op sy beurt gesê dat hy hom nie sal laat afskrik nie en dat die Weskusstreek se verklaring niks minder as ’n oorlogsverklaring teen bruin mense is nie.

“Om my te dreig met tugoptrede en my klagte oor etniese diskriminasie teen bruin of Khoisan-mense af te maak, sal my nie afskrik nie,” het hy gesê.

Claassen meen die streek se verklaring is ook glad nie van toepassing op die huidige etniese en rassediskriminasie van die ANC teen die bruin volk nie.

Hy het gesê die provinsiale sowel as die nasionale ANC het versuim om rassisme, Afrika-oorheersing en haat jeens die Khoisan of bruin mense te stop.

“Hulle wil my, wat ’n prominente stem van die gemarginaliseerdes in die streek geword het, stilmaak,” het Claassen gesê.

Hy het verder gesê hy sal nie sal ophou om sy stem dik te maak oor die lot van die Khoisan- en bruin mense in die provinsie nie.

Hulle wil my, wat ’n prominente stem van die gemarginaliseerdes in die streek geword het, stilmaak.

Die ANC in die Weskusstreek het gesê hy neem kennis van die bewerings van rassediskriminasie deur Claassen en het bygevoeg dat die party nooit “so oor bruin mense sal praat nie”.

Neville Delport, die ANC-sekretaris in die Weskusstreek, het in die verklaring gesê: “Ons is almal Suid-Afrikaners, ongeag ons ras, klas, seksuele oriëntasie of geloof.” Volgens hom verwerp die party enige pogings om rasseverdeling in gemeenskappe aan te moedig.

Intussen het Claassen bevestig dat die Menseregtekommissie in ’n e-pos bevestig het dat sy klagte ontvang is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.