Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Limpopo fokus op inentings, toerisme en skole

Meer as 44 000 gesondheidswerkers in Limpopo gaan binne die volgende twee tot drie weke teen die koronavirus ingeënt word.

So het Stan Mathabatha, premier van Limpopo, Donderdag in sy provinsiale rede in die wetgewer in Lebowakgomo gesê.

Daar is die afgelope week, sedert die Johnson & Johnson-entstof Vrydag in Limpopo aangekom het, slegs 4 000 gesondheidswerkers ingeënt.

Die eerste besending entstof is slegs by die Mankweng- en Polokwane- provinsiale hospitaal beskikbaar.

Stan Mathabatha, premier van Limpopo, Donderdag in die provinsiale wetgewer in Lebowakgomo.

Mathabatha sê sodra daar meer entstof is, sal dit na alle hospitale in die provinsie versprei word. Dit is egter nie bekend wanneer dit sal wees nie.

“Elke hospitaal gaan ook ’n span saamstel wat na gesondheidswerkers kan gaan en die entstof toedien,” sê Mathabatha.

Volgens hom is daar ’n skerp afname in die getal koronavirusgevalle in Limpopo.

In die begin van Januarie is daar sowat 2 000 koronavirusgevalle per dag aangemeld. Luidens die jongste statistieke van die departement van gesondheid in Limpopo is daar nou daagliks minder as 100 nuwe gevalle wat aangemeld word.

Teen Donderdag was daar 657 aktiewe koronavirusgevalle in Limpopo. Sedert Maart verlede jaar is 1 840 mense in Limpopo aan Covid-19 dood.

Mathabatha sê dit is veral die toerismebedryf in Limpopo wat erg benadeel is weens die Covid-19-pandemie.

Mathabatha het ook in sy rede gesê die provinsiale regering is besig om natuurreservate in samewerking met die private sektor op te knap. Die Rust de Winter- en Lekgalameetse-natuurreservaat is van die eerstes wat opgeknap sal word.

Die nasionale toerismeverligtingsfonds het R14,7 miljoen bewillig om 294 toeristebestemmings te help midde-in die pandemie.

“Limpopo het nog R10 miljoen bygedra vir die instellings wat nie deur die nasionale fonds gehelp kon word nie.”

Mathabatha sê die provinsiale regering gaan in die volgende twee boekjare 17 nuwe skole in Limpopo bou.

Die provinsiale regering gaan ook voldoende waterinfrastruktuur aan 40 skole verskaf.

Daar sal ook 250 bykomende klaskamers by skole oor die provinsie heen gebou word en ’n bykomende 45 klaskamers slegs vir gr. R-leerlinge.

Meer oor:  Stan Mathabatha  |  Limpopo  |  Toerisme  |  Inentings  |  Provinsiale Rede  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.