Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Los beelde uit, raak eerder ontslae van korruptes'

Pres. Cyril Ramaphosa moet in plaas van om standbeelde en simbole uit die koloniale en apartheidsera uit openbare ruimtes te verwyder, eerder daarop fokus om die korruptes in die ANC en sy kabinet te verwyder.

Dan sal hy volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, in belang van Suid-Afrika optree soos wat van ’n staatshoof verwag word.

Die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria nadat dit in 2015 gevandaliseer is. foto: Theana Breugem
Daar is nog wel die Kruger-standbeeld op Kerkplein in die Pretoriase middestad, wat reeds deur die EFF beskadig is. Die moontlikheid bestaan dat dit verder beskadig kan word as dit verskuif sou word.

Groenewald het Vrydag gesê Ramaphosa se uitlatings hieroor op Erfenisdag bevorder nie nasiebou nie, maar veroorsaak eerder polarisasie en vervreemding tussen die mense en volke van Suid-Afrika.

Volgens Groenewald het Ramaphosa verwronge idees oor die land se geskiedenis en het hy Ramaphosa uitgedaag om te sê watter spesifieke standbeelde verwyder moet word.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), het Donderdag gesê die regering moet nie besluite neem oor die verwydering van die betrokke standbeelde sonder om eers met Afrikaanse kultuurgemeenskappe oor hul erfenis te praat nie.

Langner het ook bygevoeg dat die regering nog nie gesê het watter standbeelde spesifiek verwyder moet word nie “omdat talle standbeelde reeds uit openbare plekke verwyder is”.

“Daar is nog wel die Kruger-standbeeld op Kerkplein in die Pretoriase middestad, wat reeds deur die EFF beskadig is. Die moontlikheid bestaan dat dit verder beskadig kan word as dit verskuif sou word.”

Intussen het Veronica van Dyk, DA-LP en ’n partywoordvoerder oor sport, kuns en kultuur, Vrydag gesê hoewel die DA nie gekant is teen ’n opname oor standbeelde en die moontlike verskuiwing van sekere beelde nie, is dit nie ’n projek wat ligtelik opgeneem kan word en sonder uitgebreide openbare deelname met gemeenskappe in die gebiede waar die standbeelde is, kan plaasvind nie.

“Elke standbeeld of monument moet ook individueel beoordeel word en ’n benadering om almal oor dieselfde kam te skeer, kan nie geld nie.”

Die DA steun ook nie die skuif van standbeelde na beoogde temaparke nie.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: City Press

Volgens Van Dyk blyk daar onreëlmatighede met die verskuiwingsproses tot dusver te wees en het die DA versoek dat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, daaroor aan die parlement verslag moet doen.

“Die geskiedenis van Suid-Afrika, so tragies en gewelddadig as wat dit mag wees, kan nie ontsmet word nie. Dit moet in die gesig gestaar en lesse moet daaruit geleer word, sodat daardie foute nooit weer herhaal word nie.”

Adv. Jurg Prinsloo SC, leier van die Afrikaner Selfbeskikking Party, het Vrydag ook in ’n verklaring gesê dat Ramaphosa met sy uitlatings oor die standbeelde net sy “kommunistiese” regering se skreiende skandes probeer wegsteek en nie versoening met wit mense wil nastreef nie.

Intussen het Songezo Mazizi, nasionale woordvoerder van die Black Peoples’ National Crisis Committee, Vrydag Ramaphosa se aankondiging verwelkom en aangevoer dat dié organisasie dit reeds sedert 2015 versoek.

“Die geskiedkundige besluit kom op ’n tyd wanneer die teenwoordigheid van hierdie koloniale simbole in openbare ruimtes woede veroorsaak by die meerderheid Suid-Afrikaners wie se voorvaders vermoor is deur mense wat deur hierdie simbole opgehemel word.”

Mazizi sê die debatte oor koloniale simbole woed reeds sedert die ontstaan van die Rhodes Must Fall-beweging in 2015 by die Universiteit van Kaapstad.

“Dit is ’n jammerte dat dié problematiese simbole ná vyf jaar steeds in openbare ruimtes staan,” het Mazizi gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.