Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LP wil Saskok in ‘Ninja Turtle’-pakke sien

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) moes in die oorgroot “Ninja Turtle”-sweetpakke wat die Olimpiese span gedra het, aan die portefeuljekomitee oor sport en ontspanning kom verduidelik het waarom ons atlete op ’n wêreldverhoog in dié sweetpakke verskyn het.

Dít was die mening van Duduzile Manana, ANC-LP, nadat Gideon Sam, Saskok-president, Woensdagoggend aan die komitee verduidelik het dat die Chinese maatskappy 361° ’n borgskap van R20 miljoen oor die volgende vier jaar aangegaan het om Suid-Afrikaanse spanne van spandrag te voorsien.

“As daar in Suid-Afrika ’n maatskappy of unie is wat daardie soort geld het, moet hy die sportliggame kontak,” het Sam gesê.

Hy gee egter toe dat daar fout was met die sweetpakke se snitte en ontwerp en sê dit sal met die vervaardiger opgeneem word.

“Mense het gekla oor die soort Ninja Turtle-sweetpak,” sê Sam.

“Ek het gekyk toe Luvo (Manyongo, verspringer) op die podium staan en gedink: Daardie sweetpak pas nie vir my seun nie.”

Hy sê wanneer hy na ander spanne gekyk het wat ook deur 361° geborg word, het hul sweetpakke “pragtig” gelyk.

Alec Moemi, direkteur-generaal van die departement van sport en ontspanning, sê egter die sweetpakke is nie juis iets wat hom kwel nie.

“Ek dink nie die Olimpiese Spele is ’n modeparade nie,” sê hy.

Hy sê die Suid-Afrikaanse media het ’n “groot lawaai” oor die sweetpakke gemaak, maar die buitelandse televisiekanaal Fox Sport het Suid-Afrika se spandrag as die mooiste aangewys.

“Wie moet ons ernstig opneem? Diegene wat dit Ninja Turtles noem of die internasionale media?”

Hy sê die Suid-Afrikaanse media sal ook kla as hulle duur ontwerpersweetpakke aan die nasionale span gee.

Ek verstaan nie. Moet ek regtig iets eet waarvan ek nie hou nie omdat dit verniet is?

Manana sê sy is “woedend” oor die sweetpakke.

“Ek verstaan nie. Moet ek regtig iets eet waarvan ek nie hou nie omdat dit verniet is?” sê sy.

“Ek wens Saskok het hierheen gekom met daardie sweetpakke.

“Ons word deur die Chinese ondermyn. Dit is verkeerd. Ek is trots Suid-Afrikaans.”

Solly Malatsi, DA-LP, sê die Olimpiese spele is uiteraard nie ’n loopplank nie, maar dit is net reg dat atlete klere verwat wat hulle pas.

Oor Moemi se verwysing na die buitelandse media sê hy: “Ons kan nie Suid-Afrikaners se gevoelens minderwaardig ag nie.”

Beauty Dlulane, komiteevoorsitter, sê die sweetpakke was “afskuwelik”, maar sy neem nie Saskok daarvoor kwalik nie, sy pak die skuld op die vervaardiger.

“As daar niemand in Suid-Afrika is wat hom aanbied nie, gaan dié goed gebeur,” sê sy.

Sam het in reaksie gesê sommige atlete verkies die sakkerige klere.

“Ja, dit is nasionale trots, dit is hoekom ek gesê het ons sal vorentoe weer na die sweetpakke kyk,” sê hy.

Na aanleiding van Sam se antwoorde op ander vrae moes Dlulane vir Sam aanspreek en hom vra om die komitee ernstig op te neem nadat Manana gekla het dat hy aanmatigend is.

Bestelling is al verlede jaar by Chinese geplaas

Suid-Afrika se Olimpiese liggaam het die omstrede sweetpakke waarmee die land se sport-trots Rio de Janeiro toe is, reeds laat verlede jaar van die Chinese maatskappy 361° bestel.

Dít was volgens Tubby Reddy, uitvoerende hoof van Saskok, hoekom soveel sweetpakke te groot was.

“Ons het 250 sweetpakke in verskillende groottes aangevra toe ons nog nie geweet het wie in die span gaan wees nie. Ons kon dus nie individuele mates spesifiseer nie,” het Reddy in Augustus tydens die Olimpiese Spele verduidelik.

“Dit is ongelukkig so dat daar ’n situasie was waar iemand ’n klein sweetpak sou vra, maar dan ’n medium moes vat omdat daar nie meer kleines was nie,” het hy gesê.

“Mense wat dit kritiseer, verstaan nie hoe ons organisering vir ’n Spele werk nie.”

Die enigste geleentheid wat atlete gehad het om hul klere op Saskok se koste kleiner te laat maak, was ten tyde van ’n kamp in Boksburg ’n paar weke voor die Spele. 

Net die twee sokkerspanne het egter die kamp bygewoon.

Reddy het in dieselfde gesprek gesê geen atlete het ooit by Saskok gekla oor hul sweetpakke of enige van die ander klere nie. Maar talle het hul klere glo net so in die atletedorp agtergelaat.

Sowel die spiesgooier Sunette Viljoen as die kajakvaarder Bridgitte Hartley het gesê hulle moes betaal om die klere kleiner te laat maak.

“Dit het my R1 040 van my eie geld gekos om al my klere te laat verstel,” het Viljoen in Rio de Janeiro gesê.

Ironies genoeg het 361°, ondanks die vroeë bestelling, nie al die klere wat Saskok van hulle aangevra het, betyds gelewer nie.

“Ons het vir elke atleet twee T-hemde en ’n gholfhemp by Sedgars gekoop en 361° se logo daarop aangebring,” het Reddy gesê. – Marizanne Kok 



Meer oor:  Parlement  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.