Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LP’s besluit dán oor OB
Thandi Modise Foto: City Press

Dit sal ’n hartseerdag wees as LP’s sou besluit dat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), ondanks ’n verdoemende paneelverslag teen haar nie verder deur die parlement ondersoek moet word nie, sê Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV).

Modise het Donderdag op ’n sitting van die NV se programkomitee bygevoeg dat LP’s met so ’n besluit “regtig die demokrasie in hierdie land in die skande sal steek.

“Ons is dit aan die land, die instelling (die OB se kantoor) en die betrokke individue verskuldig om deur ’n proses te gaan waarmee ons op die ou einde almal kan saamleef. Dit is wat vir my belangrik is,” het Modise gesê.

Haar uitsprake het gekom nadat die programkomitee Donderdag besluit het dat die betrokke verslag op 16 Maart aan die NV voorgelê sal word. Die NV moet op dié dag besluit of die saak teen Mkhwebane na ’n spesiale komitee verwys sal word of nie om ’n amptelike ondersoek te hou oor of sy uit haar amp verwyder moet word.

Modise het die verslag van ’n onafhanklike paneel, onder leiding van ’n oudregter van die konstitusionele hof, Bess Nkabinde, Maandag bekend gestel.

Dié paneel het bevind dat daar voldoende prima facie-bewyse bestaan dat Mkhwebane haar aan wangedrag én “volgehoue onbevoegdheid” in haar ampspligte skuldig gemaak het.

Masibulele Xaso, NV-sekretaris, het Donderdag aan die programkomitee gesê dat die verslag ingevolge die parlement se reëls oor ’n verwyderingsproses vir sittende hoofde van art. 9-instellings, nou so dringend moontlik na die NV vir oorweging verwys moet word.

Ons is dit aan die land, die instelling (die OB se kantoor) en die betrokke individue verskuldig om deur ’n proses te gaan waarmee ons op die ou einde almal kan saamleef. Dit is wat vir my belangrik is.

Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, het voorgestel dat dit op 16 Maart gebeur.

Alle partye in die komitee, behalwe die EFF, het oor dié datum saamgestem.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het gesê dit is duidelik dat LP’s hulself eers volledig moet inlig oor hoe “kwessies van so ’n aard presies hanteer moet word” en dat daar nie oorhaastig opgetree hoef te word nie.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep wat verlede jaar die amptelike versoek gerig het dat Mkhwebane weens verskeie verdoemende hofuitsprake teen haar uit haar amp verwyder word, het versoek dat die parlement ’n baie senior advokaat aanstel om LP’s deur die verskillende fases van die verwyderingsproses te lei “om ons as instelling te beskerm”.

Volgens haar moet daar nie gesloer word nie omdat die parlement “ ’n verpligting het om vinnig in te gryp weens die belangrikheid van art. 9-instellings”.

Modise het gesê die NV sal op 16 Maart moet besluit of daar ’n saak is waarop Mkhwebane moet antwoord of nie.

“Wat ook al gebeur, julle moet onthou dat dit die eerste keer nóg is dat ons hierdie roete volg. Ons moet dus baie versigtig wees oor watter boodskappe hierdie Suid-Afrikaanse parlement na buite uitstuur.”

Volgens haar moet die aangeleentheid nie “lomp” of “oorhaastig” hanteer word nie, “maar ons moet ook nie voete sleep hiermee nie.

“Ons wil regverdig en stiptelik wees hiermee, want hoe langer ons neem, hoe langer onderwerp ons die beeld van watter struktuur ook al aan ’n onregverdige proses.

“Kom, laat ons saamstem dat ons hierdie verslag neem na die NV, wat moet besluit of hy wil hê ons moet na die komiteefase aanbeweeg of nie,” het Modise gesê.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Ob  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.