Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LP’s briesend oor miljoene vir braaiplekke
Themba Godi

LP’s is briesend omdat byna R500 000 van belastingbetalers se geld gebruik is om braaiplekke by drie ministers se ampshuise te bou.

Wat lede van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) nog verder omkrap, is dat die regering ook miljoene rande bestee om luukse huise vir ministers te koop en in stand te hou, terwyl van die huise leeg staan.

“Die komitee is bekommerd oor wat blykbaar ’n prioriteit vir die regering is. Is dit regtig nodig om soveel geld net aan ’n braaiplek vir ’n minister te bestee?” het Themba Godi, voorsitter van die komitee, in ’n verklaring gesê.

Die komitee is ook besorg oor hoe ampshuise wat aan ministers toegeken word, gebruik word. “Die regering bestee buitensporige bedrae geld om hierdie huise te koop en in stand te hou, terwyl sommige van hulle nie eens deur die ministers of hul adjunkte gebruik word nie.

“Skoor het vasgestel dat die departement 148 prestige-huise besit wat aan ministers en hul adjunkte toegeken word. Die komitee het die departement van openbare werke gevra om verslag te doen oor hoeveel elke huis se instandhouding, tariewe en belasting die afgelope twee jaar gedra het.

Skoor het vasgestel dat die departement 148 prestige-huise besit wat aan ministers en hul adjunkte toegeken word.

“Die komitee het ook ’n gedetailleerde verslag aangevra oor watter van dié huise tot erfenisterreine verklaar is en wat dit kos om dit in stand te hou.”

Volgens Godi is die komitee ook besorg omdat daar geen perk is op die koste van ministeriële huise nie. “Die departement betaal tot R9 miljoen vir ’n sekere minister se huis, terwyl ander ministers in huise woon wat sowat R4 miljoen kos.”

Die betrokke minister se naam word nie genoem nie.

“Dit is werklik kommerwekkend dat die departement geen handleiding vir sulke aankope het nie. Skoor meen hierdie departement is daarvoor bekend dat hy allerhande karakters lok wat ’n vinnige wins wil maak.”

Volgens Godi het Skoor die departement van openbare werke opdrag gegee om op 29 Augustus volledig verslag aan LP’s te doen oor vier maatskappye wat glo bevoordeel is met die verkoop of instandhouding van ministeriële woonhuise.

Meer oor:  Skoor  |  Korrupsie  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.