Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LP’s kap departement van gesondheid se begroting

Lede van die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid het dié departement Vrydag voor stok gekry oor programme wat erg ly onder ’n gesnyde begroting.

Die departement het Vrydag die begroting en sy planne vir die 2021-’22-boekjaar aan die komitee voorgelê. Dit is met kritiek begroet.

Die boekjaar se hele begroting is ’n rapsie meer as R62,5 miljard waarvan die meeste – R32,6 miljard – aan oordraagbare en nieoordraagbare siektes gewy is.

Dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid. Foto: Argief

Covid-19

Daar is R4,35 miljard uitgesit vir die verkryging en die verspreiding van Covid-19-entstowwe.

Dr. Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, het bevestig dat hulle hiermee 40 miljoen mense wil inent teen Februarie 2022.

Naledi Chirwa, ’n EFF-lid van die komitee, het die departement hieroor bevraagteken.

Volgens Chirwa “lieg” die departement vir Suid-Afrikaners omdat dit onmoontlik is om vir daardie bedrag soveel entstof te bekom.

Sy beskuldig die departement ook daarvan dat hy nie voldoende hulpbronne beskikbaar stel vir die stryd teen MIV/vigs nie. En sy beweer die departement is korrup.

Sy is later van die Zoom-vergadering verwyder.

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van die departement, het teruggekap en gesê Suid-Afrika het reeds met Johnson & Johnson ’n kontrak onderteken om 31 miljoen dosisse te ontvang “waarmee 31 miljoen mense ingeënt sal word. Ons sal 20 miljoen dosisse van Pfizer ontvang. Omdat ’n mens twee dosisse hiervan moet kry, kan ons tien miljoen mense hiermee inent. Dan sal ons ook deur die Covax-ooreenkoms 12 miljoen dosisse van ’n entstof ontvang,” sê Buthelezi.

Gesondheidsgeriewe: Infrastruktuur en poste

Luidens die begroting is die grootste vermindering, ’n vermindering van 19,6%, aan die infrastruktuur-program aangebring terwyl daar ’n 15,6%-vermindering aan niepersoonlike dienste by gesondheidsgeriewe is.

Phaahla het komiteelede verseker dat, sover moontlik, die besnoeiings nie noodsaaklike personeel sal raak nie en dat, indien dit nodig is, administratiewe personeel afgelê sal word.

Komiteelede was egter smoorkwaad, veral omdat daar reeds ’n tekort aan personeel by gesondheidsgeriewe is.

Siviwe Gwarube, ’n DA-lid van die komitee, sê die eise teen die departement is enorm, terwyl hulle al hoe minder geld aan die nodige mediese personeel, infrastruktuur en toerusting bestee.

“Dit is ’n bose kringloop. Hoe meer geld die departement aan die eise betaal, hoe minder het hy vir noodsaaklike behoeftes wat juis die eise sal laat verminder,” sê Gwarube.

Evelyn Wilson, ’n DA-lid van die komitee, het die begroting ’n “absolute skande” genoem.

MIV/vigs en TB

Die MIV/vigs-program in die land sal vanjaar 6,9% minder ontvang terwyl die tuberkulose-program 6,3% minder sal kry.

Mxolisa Sokatsha, ’n ANC-lid van die komitee, sê dit beteken dat geen nuwe pasiënte vanjaar antiretrovirale-middels gaan kry nie.

Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)

Die departement beoog dat 5,5 miljoen pasiënte teen die 2023-’24-boekjaar deur die NGV medikasie sal ontvang.

Die program se begroting vir die opknapping van bestaande gesondheidsgeriewe is met R107 miljoen gesny.

Komiteelede was dit eens dat inisiatief nie sal kan werk as die bogenoemde kwessies nie aandag kry nie.

Sibongiseni Dhlomo, die komitee se voorsitter, het gevra dat daar spoedig ’n vergadering met die minister van finansies belê word.

Meer oor:  Departement Van Gesondheid  |  Begroting  |  Joe Phaahla  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.