Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ondersoek EOH se R400 m.-kontrak, vra LP's
Argieffoto: Thulani Mavuso, waarnemende direkteur-generaal van binnelandse sake, en Fatima Chohan, adjunkminister van die departement. Foto: Jan Gerber, News24

Stel ondersoek in oor hoe ’n omstrede tegnologiemaatskappy die kontrak gekry het om die staat se nuwe geoutomatiseerde biometriese identifikasiestelsel (Abis) te bestuur.

Dié versoek is Dinsdag deur LP’s aan dr. Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake, gerig.

Lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake was dit eens dat die Abis-kontrak van R400 miljoen, wat aan die tegnologiemaatskappy EOH Holdings toegeken is om die bestaande nasionale identifikasiestelsel (Hanis) te vervang, ondersoek moet word.

EOH is vroeër by beweerde korrupsie met staatskontrakte betrek.

LP’s het gehoor die departement van binnelandse sake het die bystand van die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) versoek om ’n diensverskaffer vir die opgradering van die nuwe biometriese identifikasiestelsel te kry.

Thulani Mavuso, waarnemende direkteur-generaal van binnelandse sake, het in sy voorlegging gesê die nuwe datum vir die vervanging van die Hanis-funksie is 1 Mei, terwyl die tweede fase in Junie sal begin.

Setumo Mohapi, uitvoerende hoof van Sita, het aan die komitee gesê 15 maatskappye het vir akkreditasie gebie om ’n diensverskaffer vir die projek te wees.

’n Bod-evalueringskomitee is aangestel om die tegniese evaluering van die maatskappye te doen. Dié komitee het drie verskaffers vir tegniese evaluasie goedgekeur. Finansiële evaluasie is ook gedoen.

“Uit die drie verskaffers moes twee van hulle nie die evaluasie geslaag het nie. Die enigste een wat die evaluasie moes slaag, was EOH. Die ander twee het aan een spesifieke vereiste nie voldoen nie. Hulle was veronderstel om bewyse te lewer van die nakoming van internasionale biometriese standaarde.”

Die twee maatskappye wat te kort geskiet het, was volgens Mohapi Accenture en Exon NEC Africa. “EOH het aan al die vereistes voldoen,” het hy gesê.

LP’s was nie tevrede met dié toedrag van sake nie en het ’n ondersoek geëis.

EOH
EOH

Hlomane Chauke, komiteevoorsitter, het eerste vir ’n ondersoek na die kontrak gevra. Hy het gesê die twee maatskappye wat nie gekwalifiseer het nie, is net saam met EOH “beweeg” wetende dat hulle nie vir die kontrak gekwalifiseer het nie. Tog is hulle vir die finale besluit gestuur. “Dit beteken daar was regdeur (die proses) net dié een maatskappy.”

Ook Haniff Hoosen, DA-LP, het gesê die hele kontrak behoort ondersoek te word. “Na my mening is daar meer as genoeg inligting om aan te voer dat die proses nie heeltemal korrek was nie.”

Hy het daarop gewys dat elf mense in die bodevalueringskomitee gedien het. Daarbenewens was daar ’n ouditkomitee om die evalueringskomitee se werk noukeurig te kontroleer, maar niemand kon raaksien dat twee maatskappye tegnies nie gekwalifiseerd was om die werk te doen nie.

“Jy sê al die hoogs gekwalifiseerde, hoogs betaalde mense het die belangrikste kriteria misgekyk – dat hulle nie die ervaring het om dit te doen nie. Dit klink té gerieflik vir my. Om dié rede sal ek sterk aanbeveel dat die komitee vra dat die kontrak ondersoek word.”

Volgens Hoosen was daar geen manier waarop Sita nie geweet het wat EOH se reputasie in die mark was gegewe al die bewerings van korrupsie betreffende die maatskappye wat aan hulle behoort nie.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het haar geskaar by die res van die komitee wat vir ’n ondersoek gevra het.

Sowel Mavuso as Cwele het aangedui hulle het geen probleem daarmee dat die kontrak ondersoek word nie.

Meer oor:  Eoh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.