Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LP’s wil weet waarheen elke sent vir entstowwe gaan

Belastingbetalers moet presies weet hoe elke sent van die miljarde rande wat toegeken is om Covid-19-entstowwe vir Suid-Afrika aan te koop, bestee word.

En die regering moenie toegelaat word om agter “nie-openbaarmakingsooreenkomste (NOO’s)” met entstofvervaardigers te skuil om dié inligting van LP’s te weerhou nie.

Floyd Shivambu, EFF-adjunkleier, het Donderdag so geargumenteer toe dié kwessie op ’n sitting van die Nasionale Vergadering (NV) se programkomitee opgeduik het.

Floyd Shivambu Foto: Daily Sun

Dit volg nadat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede aangekondig het dat meer as R10 miljard toegeken is vir die aankoop én lewering van Covid-19-entstowwe oor die volgende twee jaar. “Ons verhoog ook die noodreserwe van R5 miljard tot R12 miljard om voorsiening te maak vir die verdere aankoop van entstowwe én om voorsiening te maak vir ander noodgevalle,” het Mboweni bygevoeg.

Die gesprek hieroor het Donderdagoggend in die programkomitee opgekom toe Natasha Ntlangwini en Hlengiwe Mkhaliphi, ook EFF-LP’s, weer gekla het oor dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wat volgens hulle weens NOO’s weier om enige inligting oor entstofaankope aan LP’s beskikbaar te maak as hulle hom in amptelike parlementêre vrae daaroor vra.

Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, het gesê dat Mkhize hom onlangs ingelig het dat dit weens die aard van die onderhandelings en aankoopprosesse soms nie moontlik is om in sekere stadiums daarvan inligting openbaar te kan maak nie, maar dat hy binnekort die parlement daaroor sal toespreek.

Shivambu het gesê dit gaan vir die EFF nie net oor Mkhize se gedrag nie, maar eerder oor die algemene beginsel oor hoe LP’s die kwessie benader waar ministers weens NOO’s nie inligting aan LP’s bekend maak nie.

“Dit gaan oor ’n breër kwessie van aanspreeklikheid, sowel as die parlement se toesighoudende verpligtinge.

“Gister het minister Mboweni gesê R10 miljard word toegeken vir entstowwe. Niemand weet hoeveel ’n dosis kos nie. So, ons weet nie hoeveel dosisse R10 miljard sal kan koop nie.

“Ons moet ingelig word hoeveel ’n dosis kos, hoeveel die berging daarvan kos en oor ander aspekte waaroor ons tans nie ingelig word nie sodat ons meer doeltreffend ons toesighoudende rol teenoor alle ministers wat met NOO’s te doen het, kan speel.”

Thandi Modise, NV-speaker, het gesê die aangeleentheid sal ook met alle komiteevoorsitters bespreek word omdat LP’s “van elke sent van die mense wat bestee word, moet weet”.

Volgens Modise moet LP’s egter ook weet wanneer inligting nie dadelik openbaar gemaak kan word nie.

“Die parlement moet meer deursigtig as geheimsinnig wees. Ek ondersteun dus komitees wat ondersoek doen om elke sent van die publiek te verdedig. En as ons hul magte daaroor moet hersien, moet ons.”

Modise het dit egter duidelik gemaak dat LP’s nie aan ministers sal voorskryf met watter maatskappye hulle mag sake doen nie. “Dít is nie ons rol nie. Ons moet hulle aanspreeklik hou nadat hulle hul pligte uitgevoer het en nie voor die tyd nie. Eers daarna kan ons hulle daaroor kritiseer en takel,” het Modise bygevoeg.

Meer oor:  Koronavirus  |  Parlement  |  Entstof  |  Besteding  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.