Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LUISTER: Dít is die lied waarna Cyril in sy staatsrede verwys
Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede.
Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede. Foto: Jaco Marais

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand sy staatsrede afgesluit deur hulde te bring aan Joseph Shabalala, die stigter van die musiekgroep Ladysmith Black Mambazo, en te verwys na een van dié groep se bekendste liedjies, World in Union.

Shabalala (78) is Dinsdag in Pretoria aan onbekende oorsake dood.

Netwerk24 het vroeër berig die boorling van Ladysmith is aanvanklik in die St. Augustine-hospitaal in Durban opgeneem, maar dat hy weens die erns van sy toestand op 2 Januarie na die Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria oorgeplaas is. Sy vrou, Thokozile, was tot sy dood aan sy sy.

Ladysmith Black Mambazo het intussen sy Amerikaanse toer opgeskort om die begrafnis van sy ewe legendariese stigter by te woon. Die groep bestaan uit vier van Shabalala se ses kinders.

Ramaphosa het Donderdagaand spesifiek woorde uit dié groep se bekende lied "World in Union" aangehaal:

“We may face high mountains,

Must cross rough seas,

We must take our place in history,

And live with dignity,

As we climb to reach our destiny

A new age has begun.”

Ramaphosa het genoem dié woorde is in 'n ander era geskryf, maar dat die woorde vandag nog van waarde is.

Die Ladysmith Black Mambazo is veral bekend vir die opname van dié lied saam met PJ Powers vir die Rugby Wêreldbeker in 1995. 

LUISTER HIER NA DIE LIED:

Wie was Joseph Shabalala?

Joseph Shabalala. (PHOTO: GETTY IMAGES/GALLO IMAGE
Joseph Shabalala. (PHOTO: GETTY IMAGES/GALLO IMAGES)

Shabalala is in 1941 in Ladysmith, KwaZulu-Natal, gebore en het in sy jeug reeds uitgeblink as mbube- en isicathamiya-sanger – tradisionele Suid-Afrikaanse sangstyle wat gewoonlik a cappella uitgevoer word en waarvoor Ladysmith Black Mambazo vandag wêreldbekend is.

Hy het die groep in die vroeë 1960’s gestig en het as afrigter, liedjieskrywer en komponis ’n leeue-aandeel in die groep se opgang na die wêreldverhoog gehad – eers met ’n buitelandse toer in 1981 en toe danksy hul samewerking met Paul Simon op sy 1986-album, Graceland.

Die groep spog vandag met meer as 60 van hul eie albums en vyf Grammy-pryse wat hulle oor die dekades heen vir die albums Shaka Zulu, Raise Your Spirit Higher, Ilembe, Live: Singing for Peace Around the World en Shaka Zulu Revisited gewen het.

Die Suid-Afrikaanse regering was vandeesweek een van die eerstes om op sy amptelike Twitter-rekening op Shabalala se dood te reageer. “Ons wil graag ons medelye betoon ná die dood van Joseph Shabalala, wat die groep Ladysmith Black Mambazo gestig het,” lui die twiet. “Rus in vrede, Tata. Jou wedloop is voltooi.”

Bykomende beriggewing: Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Staatsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.