Die ANC se Andile Lungisa is Dinsdagoggend by die Noordeinde-gevangenis in Port Elizabeth op parool vrylaat.
Hy het ongeveer drie maande van sy effektiewe twee jaar tronkstraf uitgedien.

Andile Lungisa bal sy vuis in die lug toe hy vroeër vanjaar by die Noordeinde-gevangenis in Port Elizabeth instap om sy vonnis uit te dien. Foto: Lulama Zenzile
Netwerk24 het Sondag berig dat die ondersteuners van Lungisa, voormalige adjunkpresident van die ANC-jeugliga en raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, oorgehaal is om hom Dinsdag uit die tronk te verwelkom, hoewel die departement van korrektiewe dienste (DKD) nie sy vrylating bevestig het nie.
Singabakho Nxumalo, nasionale woordvoerder van die DKD, het Dinsdagoggend egter wel sy parool bevestig.
Volgens hom het die spesiale kwytskelding van vonnisse, wat pres. Cyril Ramaphosa op 16 Desember 2019 toegestaan het, sy vonnis met 12 maande verkort. Meer as 14 000 gevangenes het by die kwytskelding gebaat.
Ayanda Kasa, voormalige provinsiale sekretaris van die ANC-jeugliga in Gauteng en een van die dryfvere agter die Release Andile Lungisa-veldtog, het Dinsdagoggend aan Netwerk24 bevestig dat Lungisa die oggend vrygelaat is.

Andile Lungisa Foto: Lulama Zenzile
Hy is in 2018 gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy op ’n raadsvergadering in Oktober 2016 ’n glasbeker oor Rano Kayser, ’n DA-raadslid, se kop gebreek het.
Lungisa sal na verwagting omstreeks 10:00 op ’n mediakonferensie in Port Elizabeth praat.