Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LUR beloof baie artse, verpleërs vir VS

Terwyl Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, baie meer dokters, verpleegsters en ambulanse vir die provinsie beloof het om sy gesondheidsdienste te verbeter, het die DA groot probleme met die veiligheid by veral die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein uitgewys.

Montseng Tsiu Foto: Verskaf

Mariette Pittaway, DA-LW, het Donderdag in die wetgewer se begrotingsdebat vir gesondheid in die Vierde Raadsaal gesê veiligheidsdienste by die meeste Vrystaatse hospitale en klinieke is uiters swak of nie-bestaande.

Sy het persoonlik die “nuwe” veiligheidstelsel by Pelonomi gaan toets en was geskok omdat sy geen veiligheidspersoneel raakgeloop het nie. “Jy kom so maklik in die hospitaal in soos ’n mes wat deur warm botter sny.”

Dit volg op nuus oor onlangse voorvalle by Pelonomi, onder meer ’n poging tot verkragting by die hospitaal waarin ’n dokter haar aanvaller se tong afgebyt het.

Tsiu het op haar beurt gewys na vordering wat gemaak is wat die lewering van gesondheidsdienste betref.

Sy het onder meer verwys na die premier se aankondiging in haar provinsiale rede dat 457 mediese dokters in die Vrystaat aangestel gaan word. Tot op hede is 145 van dié dokters reeds in vyf distrikte aangestel.

“Ons het ook aangekondig dat 1 710 meer verpleegkundiges teen Maart 2020 aangestel sal word. Tot nou is 201 van die verpleegkundiges reeds aangestel.”

Tsiu het gesê met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat binne ’n jaar ingestel sal word, sal ’n einde gebring word aan die twee aparte gesondheidstelsels.

Sy het gesê dit is waar dat die Vrystaat nie genoeg ambulanse het nie, maar verlede jaar is 60 ambulanse aangekoop en nog ambulanse sal aangekoop word.

Pittaway het egter gemaan die Vrystaatse gesondheidsdepartement sal sy sokkies moet optrek.

“Eise weens beweerde mediese nalatigheid teen die departement beloop nou R1,8 miljard. Onreëlmatige uitgawes staan op R797 miljoen en agterstallige skuld en betalings wat gemaak moet word wat nie in die boeke erken is nie, staan op R293 miljoen.”

Sy het gesê die departement van gesondheid is nie in staat om betekenisvolle gesondheidsdienste in die provinsie te lewer nie en het sy krisispunt bereik.

Die ouditeur-generaal (OG) het onlangs in sy verslag gesê die provinsiale gesondheidsdepartement bevind hom in so ’n slegte situasie “dat beduidende twyfel bestaan of die departement nog die vermoë het om as likied beskou te kan word”.

Pittaway het ook gesê volgens ’n studie van die Universiteit van Washington woon 21,3% van die mense in Suid-Afrika wat MIV-positief is, in die Vrystaat.

“Die Vrystaat faal daarin om die mense deur bewusmakingsveldtogte en inligtingsessies op te voed oor die MI-virus,. Daar is ook deurentyd verskeie klagte oor tekorte aan antiretrovirale medisyne by klinieke.”

Sy het ook gesê die departement het ses mobiele kliniek-busse teen ’n gesamentlike koste van R71 miljoen bekom, maar die busse word nie ten volle gebruik nie weens ’n tekort aan bestuurders en mediese personeel om dit te bedryf.

“Op ’n oorsigbesoek vroeër vanjaar het die DA gevind dat die Albert Nzula-hospitaal aan die N1-hoofweg by Trompsburg, wat teen ’n bedrag van R380 miljoen opgerig is en die mense van Edenburg tot by Zastron moes bedien en na ongelukslagoffers op die N1 moet omsien, net as luukse kliniek bedryf word.

“Die hospitaal beskik oor geen spesialiste nie en moet ernstige gevalle na Bloemfontein vervoer. Die hysbakke van die hospitaal werk ook nie.”

Sy het gesê geen instandhouding word ook by die Winburg-streekhospitaal wat langs die N1 en N5 geleë is, gedoen nie en van daar word deesdae ook net basiese dienste aan die gemeenskap gelewer en geen nooddienste nie.

Seipati Nanyane van die EFF het gesê die Suid-Afrikaanse studente wat in Kuba opgelei word, is “halfgebakte dokters” wat hier verder opgelei moet word omdat hulle nie die land se siektes en omgewing verstaan nie.

Vusi Tshabalala van die ANC het gesê die gesondheidsdienste in Kuba is die beste in die wêreld en selfs beter as die gesondheidsdienste in Amerika.

Die ANC sal voortgaan om dokters in Kuba op te lei.

Meer oor:  Montseng Tsiu  |  Pelonomi-Hospitaal  |  Probleme  |  Gesondheids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.