Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
LUR skryf aan minister oor Kaapse aktekantoor

Die voortslepende probleme by die Kaapse aktekantoor het die provinsiale regering genoop om ’n pleidooi aan Thoko Didiza, nasionale minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, te rig om dringend in te gryp.

Sedert 13 Mei, toe die kantore ingevolge die inperkingsregulasies kon oopmaak, is sy deure gereeld gesluit. Tot en met 17 Julie is 37 werkdae verloor.

David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het Didiza skriftelik gevra om dadelik in te gryp.

Maynier sê dit blyk dat dié kantoor nie die korrekte prosedures met betrekking tot veiligheid in die werkplek volg nie. Volgens hom lyk dit nie of die amptenare hier in kleiner en meer geïsoleerde spanne verdeel word om die risiko van infeksie te verminder nie.

Sowel die kantore in die middestad as dié in Mowbray word gesluit elke keer wanneer ’n amptenaar positief toets of wanneer ’n amptenaar in nabye kontak met ’n positiewe geval was. Dit is problematies omdat dit die enigste twee aktekantore in die provinsie is, sê Maynier.

Hy sê indien iemand positief getoets is, moet hulle geïsoleer word en diegene wat in nabye kontak met dié persoon was, moet in kwarantyn geplaas word. Sodoende is dit net nodig om sekere dele van die kantoor te sluit en nie die hele kantoor nie.

Thoko Didiza, nasionale minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Foto: Argief
David Maynier, Wes-Kaapse LUR van finansies en ekonomiese geleenthede. Foto: Argief

“Nie elke positiewe geval of iemand wat in nabye kontak met ’n positiewe geval was, verg dat die hele kantoor gesluit moet word nie.”

Maynier verduidelik in sy skrywe aan Didiza dat die werk wat die amptenare hier doen, is van die uiterste belang vir die eiendomsbedryf. As die kantore gesluit is, het dit ’n negatiewe impak op mense wat huis koop, maar ook op ander ondernemings wat nie kan werk as die aktekantore gesluit is nie.

“Dit kan tot werkverliese lei,” skryf hy.

Weens die pandemie sal baie private en kommersiële eiendomme meer bekostigbaar wees en daarom is dit baie belangrik dat die aktekantoor in bedryf is omdat dit ’n belangrike rol speel in beleggings, wat nodig vir ekonomiese groei in die provinsie is.

Indien aktes nie verwerk word nie, beteken dit geen geld kan oorgedra word nie.

Die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het onlangs met die bestuur van die aktekantore vergader in ’n poging om die situasie te beredder, “maar die situasie het net vererger tot op ’n punt waar ons geen ander keuse het as om die ingryping van minister Didiza te versoek nie”.

Maynier se pleidooi kom nadat die Kaapse Prokureursvereniging en die Instituut vir Eiendomsagente van Suid-Afrika in Junie ’n bevel van die hooggeregshof in Kaapstad bekom het wat die kantoor dwing om in bedryf te wees.

Hierna het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur van die Kaapse metroraad, die nasionale regering gevra om toe te sien dat die kantoor heropen.

Hy het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en Didiza

gevra om tussenbeide te tree en meer hulpbronne toe te wys sodat die kantoor nie hoef te sluit nie.

Dit blyk niks het hiervan gekom nie.

Hierna het die Kaapse Sakekamer ook sy kommer uitgespreek. Hy wou weet of die werknemers van die aktekantoor die koronaviruspandemie vir

ekstra vakansietyd gebruik of net “onnosel” is.

Almal wil weet of dit nodig is om die kantore in geheel te sluit sodat geen werk gedoen word nie.

Die ministerie sê telkens by navraag bloot dat die riglyne van die nasionale regulasies van die departement van gesondheid gevolg word en gee nooit ’n verduideliking waarom die kantore heeltemal gesluit word nie.

Die kennisgewings wat die bestuur van die aktekantoor die afgelope drie maande aan regslui gestuur het, wat Netwerk24 onder oë gehad het, wys dat die aktekantoor by minstens vyf geleenthede gesluit was.

In Mei is 11 werkdae verloor, in Junie 15 werkdae en tot 17 Julie 11 werkdae.

Van 13 Mei tot 17 Julie is 35 937 aktes by die kantoor ingedien, waarvan net 12 847 geregistreer is. Daar is dus ’n agterstand van 23 090 aktes wat nog nie geregistreer is nie.

Die kantore is so onlangs as 28 Julie gesluit en het eers weer op 3 Augustus oopgemaak.

Navrae is weer aan die nasionale departement gerig en sal bygewerk word wanneer antwoorde ontvang word.

Meer oor:  Aktekantoor  |  Thoko Didiza  |  David Maynier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.