Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Lyk of SAUK stoom verloor om verrotting te keer’

Sommige LP’s is bekommerd dat die SAUK skynbaar stoom verloor het om die verrotting by dié instelling uit te wis.

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het Woensdag dié mening gehuldig nadat hy die bestuurslede van die SAUK, wat ’n voorlegging moes lewer, teruggestuur het omdat hulle nie besonderhede oor die R4,9 miljard se onreëlmatige besteding by die uitsaaier aan die komitee kon gee nie.

Themba Godi, komiteevoorsitter, het in ’n verklaring gesê die tipe inligting wat Skoor vir die komiteesitting vereis het, is in briewe aan die SAUK uiteengesit. Die komitee is egter ingelig dat dié besonderhede nie beskikbaar was nie.

Volgens die verklaring maak die gebrek aan dié inligting dit moeilik vir die komitee om met sy besprekings oor die finansiële state van die SAUK voort te gaan.

“Die komitee is bekommerd daaroor dat die SAUK skynbaar momentum verloor het om die verrotting uit te roei wat begin het toe die vorige tussentydse raad van die uitsaaier saamgestel is.

“Skoor was onder die indruk dat die tussentydse raad maandeliks verslae saamgestel het oor presies wat by die SAUK aan die gang was. Dit is dus kommerwekkend dat die huidige SAUK-raad geen besonderhede het van die kontrakte wat tot die onreëlmatige besteding van R4,9 miljard gelei het nie,” lui die verklaring.

Dit lyk asof die SAUK agteruitgaan, daarom is dit belangrik dat die besonderhede van die kontrakte wat tot die onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes bygedra het, verskaf word aan die komitee om betekenisvolle besprekings daaroor met die instelling te kan hê

Skoor sê dié toedrag van sake is veral kommerwekkend aangesien die komitee baie tyd daaraan bestee het om saam met die SAUK te werk om hul probleme op te los.

“Dit lyk asof die SAUK agteruitgaan, daarom is dit belangrik dat die besonderhede van die kontrakte wat tot die onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes bygedra het, verskaf word aan die komitee om betekenisvolle besprekings daaroor met die instelling te kan hê.”

Die SAUK is versoek om die relevante inligting op 14 November te verskaf wanneer die bestuurslede geskeduleer is om weer voor die komitee te verskyn.

*Die komitee het ’n verslag verwelkom wat hy van die spesiale ondersoekeenheid oor alle ondersoeke na die SAUK ontvang het. Dié verslag sit die ondersoeke uiteen wat in twee fases plaasgevind het en bevat onder meer besonderhede van spesifieke sake, name en bedrae wat daarby betrokke is.

In die lig van die “honderde miljoene rande wat van geïmpliseerde individue verhaal moet word, sal dié inligting die komitee help om tred te hou met die besluite wat die SAUK oor die gevolge daarvan geneem het”, lui die verklaring.

Meer oor:  Verrotting  |  Kommer  |  Sauk  |  Lp’S
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.