Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Lynne Brown moet e-posse oor Eskom aan Zondo verduidelik

Oudminister Lynne Brown het ’n paar “vreemdhede” wat sy moet opklaar oor die bewering dat sy deur Tony Gupta en sy meeloper Salim Essa beïnvloed is en sy glo hul opdrag uitgevoer het en ingemeng het toe die komitees van die Eskom-direksie saamgestel moes word.

Lynne Brown Foto: Simphiwe Mbokazi

Brown, wat ook oudpremier van die Wes-Kaap is en in Februarie 2018 deur pres. Cyril Ramaphosa uit sy kabinet geskop is, was die minister van openbare ondernemings toe die Eskom-direksie in 2015 glo deur die Guptas gemanipuleer is in hul meedoënlose kaping van die land se staatsentiteite.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Vrydag gesê Brown sal moet verduidelik hoe dit volgens die opskrifte van e-posse tussen haar en die destydse voorsitter van die Eskom-direksie, Zola Tsotsi, blyk dat sy wel weergawes per e-pos vanaf Tsotsi ontvang het van hoe die komitees saamgestel moet word.

Sy sal moet verduidelik hoe haar weergawe versoen kan word met die e-pos aan jou (Tsotsi) wat ek vroeër gelees het.
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, met Vrydag se sitting. Foto: Skermgreep

Dít terwyl Brown in ’n beëdigde verklaring aan die kommissie aanvoer sy ontken dat sy op 16 Desember 2015 ’n e-pos van Tsotsi gekry het oor die lys óf ’n aangepaste lys wat Tsotsi ook aanvoer hy vir haar per e-pos gestuur het.

“Sy sal moet verduidelik hoe haar weergawe versoen kan word met die e-pos aan jou (Tsotsi) wat ek vroeër gelees het,” het Zondo gesê.

Brown het nog nie voor die kommissie getuig nie en het vantevore aangedui sy is bereid om te getuig en haar weergawe te stel.

Wat beweer Tsotsi?

Volgens Tsotsi het hy ’n e-pos van Essa gekry oor hoe Eskom se komitees moet lyk. Hy het dié lys aan Brown gestuur asof dit sy eie was.

Daarna het Tsotsi veranderinge aangebring en weer ’n e-pos aan Brown gestuur met sy eie veranderings oor die komiteelede van die Eskom-direksie.

Tsotsi sê hierna het Brown hom na haar huis genooi. Daar het hy haar in die geselskap van Tony Gupta en Salim Essa aangetref. Op dié vergadering het Brown glo daarop aangedring dat daar gehou word by die lys wat Essa oorspronklik aangestuur het oor hoe die komitees saamgestel moet word.

Dele van Brown se verklaring is deur adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, Vrydag aan Tsotsi gestel.

Zola Tsots
Zola Tsotsi, oudvoorsitter van die Eskom-direksie, getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Op ’n vraag van Zondo oor wat Brown se weergawe is van die beweerde vergadering, het Seleka geantwoord sy sê nie veel nie, maar wel dat sy volstaan by haar ontkenning dat Tony Gupta of Essa, hetsy gesamentlik of op hul eie, ooit haar huis in Pretoria besoek het.

Hierop het Zondo gevra of Brown verwys na Tsotsi se bewering dat daar ’n vergadering was waar sy daarop aangedring het daar moet by Essa se weergawe van die komitees gehou word.

Seleka het geantwoord sy het nie spesifiek verwys na die vergadering soos wat Tsotsi aanvoer nie.

“Dit is vreemd,” het Zondo geantwoord.

Seleka het gesê dit is ook vreemd dat sy ontken dat sy die lys gesien het wat Tsotsi op 16 Desember 2015 aan haar gestuur het – die lys van name wat volgens Tsotsi in der waarheid deur Essa per e-pos aan hom gestuur is – en dat Tsotsi daarna sy eie lys aan haar gestuur het op 26 Januarie 2016.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Zondo het gesê maar daar is ’n e-pos van Brown aan Tsotsi op 28 Januarie 2016 wat verwys na die komitees en dit blyk in antwoord te wees op ’n e-pos vanaf Tsotsi.

Brown sê selfs in dié e-pos omdat dit ’n nuwe direksie van Eskom is, is dit haar plig om op formele wyse die samestelling van die direksie se komitees te oorweeg.

Zondo het aan Tsotsi gevra of dit nie onregverdig teenoor Brown sal wees om aan te voer dat sy en Essa saamgewerk het nie.

Tsotsi het geantwoord dit kan die geval wees indien sy hom nie na haar huis genooi het waar Tony Gupta en Essa teenwoordig was nie. Ook dat sy in hul teenwoordigheid gesê het Essa se lys is die een wat sy aanvaar.

Meer oor:  Salim Essa  |  Lynne Brown  |  Tony Gupta  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.