Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maak Covid-19-proses só meer deursigtig, sê Madonsela

Plaas van ’n nasionale bevelsraad oor Covid-19 moet Suid-Afrika ’n inklusiewe, interregering-rampbestuurskomitee hê soos waarvoor die Wet op Rampbestuur voorsiening maak, sê prof. Thuli Madonsela.

Sy het Donderdag aan Netwerk24 gesê só ’n komitee kan beteken besluite en prosesse is meer deursigtig. Sy glo ook dit sal daartoe lei dat die publiek makliker sal deelneem en by besluite sal inkoop.

“Die president het Woensdagaand in sy toespraak verskoning gevra vir foute wat gemaak is, maar ’n mens wonder of daar nie minder foute sou wees as die proses meer deursigtig was nie,” sê Madonsela.

Totstandkoming van bevelsraad

Thuli Madonsela
Prof. Thuli Madonsela Foto: Herman Verwey

Daar was aanvanklik ’n interministeriële komitee onder leiding van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wat die regering se reaksie op Covid-19 gedryf het.

Toe word die nasionale bevelsraad op 15 Maart deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig.

Die presidensie skryf in ’n brief aan advokate wat die staat met regsaksie oor die bevelsraad dreig, dat die president in “die uitsonderlike tye” besluit het “versigtige koördinasie is nodig” tussen al die kabinetslede wat ’n rol speel om die Covid-19-pandemie te bestuur.

Die bevelsraad, onder leiding van die president, is op die been gebring met minstens 19 ander kabinetslede.

Volgens die presidensie se brief het die bevelsraad “ ’n fasiliterende rol” en hy tree met die “kabinet se gesag” op.

“Die bevelsraad sal onder meer die lede van die interministeriële komitee insluit en sal drie keer per week vergader om alle aspekte van ons buitengewone noodrespons te koördineer,” het Rampahosa op 15 Maart in sy nasionale toespraak gesê.

News24 het Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, Woensdag aangehaal dat die bevelsraad “geen grondwetlike status het nie” en dat alle beleidsbesluite na die kabinet verwys word.

Daar is dus geen wetlike gronde vir die bevelsraad om besluite te neem nie.

Maar die bevelsraad besluit blykbaar wél

Tog klink dit nie of almal saamstem oor die rol van die bevelsraad nie. Die president het al by meer as een geleentheid in openbare toesprake gesê “die bevelsraad het besluit”.

Dit het gegaan oor onder meer die instel van die inperking en die verlenging daarvan.

“Dit lyk of die regering meestal art. 8 van die Wet op Rampbestuur (oor die rampbestuursentrum), art. 26 (die mag om regulasies uit te vaardig) en art. 27 (die mag om ’n rampstaat te verklaar) gebruik,” sê Madonsela. Art. 17 (oor die rampbestuurinligtingstelsel) word ook nie volledig gebruik nie.

“Dit lyk asof daar geen inligtingstelsel is oor die maatskaplike en ekonomiese impak van die reguleringsrespons om die virus te bedwing nie.”

‘ ’n Interministeriële komitee vir deursigtigheid’

“Ons moet onderskei tussen ’n reaksie op oorlog en ’n reaksie op die virus. Die doel is fantasties, maar ek dink die roete kan anders wees.”

Madonsela bedoel daarmee ’n meer deursigtige, inklusiewe komitee, soos ’n interregeringskomitee.

As daar byvoorbeeld nie LUR’e in die komitee dien nie, soos in die geval van die huidige bevelsraad, “moet die kabinetslede spekuleer oor wat byvoorbeeld in Noordwes aangaan”.

“Selfs al sou hulle Noordwes bel, is ’n telefoonoproep nie dieselfde as om iemand in die vertrek te hê nie,” meen sy.

Volgens Madonsela maak die Wet op Rampbestuur voorsiening vir die interregeringskomitee onder leiding van ’n aangewese minister (die minister van samewerkende regering in dié geval).

Art. 5 van die wet maak ook voorsiening vir ’n adviespaneel wat bestaan uit kenners, akademici, godsdiensleiers, sakelui en ander belanghebbendes.

“Die interregeringskomitee bring al drie lae van die regering saam. Dit lyk of ons nie so ’n komitee het nie, of dis nie die een wat die kabinet oor Covid-19-beleidreaksies adviseer nie,” sê Madonsela.

Hoekom maak die rol van die bevelsraad saak?

Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner.

Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner, skryf in sy blog “Constitusionally Speaking” as daar verskillende weergawes vir die rol van die bevelsraad is, moet van die weergawes verkeerd wees. Dit bring die wetlike geldigheid van die hele inperking in gedrang.

Ingevolge die Wet op Rampbestuur is dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, verantwoordelik daarvoor om regulasies uit te vaardig of te wysig.

As die bevelsraad egter besluite neem en dan vir Dlamini-Zuma aansê om dit in te stel, of die besluite neem wat deur die kabinet bekragtig moet word, sal die besluite onwettig en ongeldig wees, skryf De Vos.

Diko het nie op navrae of oproepe gereageer nie.

Meer oor:  Thuli Madonsela  |  Bevelsraad  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.