Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maandag is D-dag vir Zuma voor Zondo-kommissie

Alle oë is Maandag op Parktown in Johannesburg waar oudpres. Jacob Zuma, die hoofkarakter in die ontvouende getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, self gaan verskyn.

Zuma het voorheen gesê hy is beskikbaar om van 15 tot 19 Julie voor die kommissie te verskyn. Of hy bereid gaan wees om vrae te beantwoord, sal nog gesien moet word.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: Argief

Die spesifieke opdrag wat op 25 Januarie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is, noem dat vasgestel moet word of Zuma “enige rol gespeel het in die beweerde aanbod van kabinetsposte aan Mcebisi Jonas en Vytjie Mentor deur die Gupta-familie”.

Die kommissie moet ook vasstel of die aanstelling van enige lid van die nasionale uitvoerende gesag, funksionarisse of ampsdraers aan die Gupta-familie bekend gemaak is voordat die aanstellings formeel gemaak of bekend gemaak is, en indien wel, of Zuma daarvoor verantwoordelik was.

Verder moet bepaal word of Zuma die Grondwet of enige toepaslike gedragskode of wetgewing oortree of geskend het deur die onwettige toekenning van tenders deur staatsbeheerde ondernemings of enige staatsorgaan te fasiliteer, tot voordeel van die Gupta-familie of enige ander familie, individu of korporatiewe entiteit wat sake met enige staatsorgaan doen.

Zuma moet ook direk ondersoek word ten opsigte van die aard en omvang van korrupsie, indien enige, met die toekenning van kontrakte en tenders.

Die opdrag aan die kommissie is duidelik, volgens die Staatskoerant, naamlik dat hy enige aangeleentheid vir vervolging of verdere ondersoek na die toepaslike wetstoepassingseenhede, staatsdepartement of reguleerder moet verwys na sy ondersoek.

News24 het berig Zuma het Vrydag self aan SABC Nuus bevestig hy sal Maandag voor die kommissie verskyn en “sal dan sien hoe dit gaan”. Hy het by die Randburg-landdroshof met die kwytskelding van sy seun Duduzane op ’n klag van strafbare manslag, bevestig hy sal daar wees.

Eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die Zondo-kommissie, het navrae oor Zuma se verskyning Maandag erken, maar gesê die kommissie wil nie kommentaar lewer nie; daar moet gewag word tot Maandag.

* Die getuienis van die sakeman Vivien Natasen, stigter en alleeneienaar van die maatskappy Neo Solutions, is Vrydagmiddag uitgestel tot wanneer daar weer ’n tydgleuf beskikbaar is ná Zuma se verskyning.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.