Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Mabuza kan nog Ramaphosa se adjunk word’

Dit is nie neusie verby vir adj.pres. David Mabuza om in pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet te dien nie, sê Lawson Naidoo, ’n grondwetkenner.

Mabuza het Woensdag onverwags sy beëdiging as LP “uitgestel”. Daily Maverick het daarna berig dat daar volgens ’n uitgelekte ANC-boodskap reeds gereël word dat iemand anders sy LP-setel kry en hy kragtens die Kieswet dan eers oor ’n jaar weer in aanmerking vir ’n LP-pos kan kom.

David MabuzaFoto: DEAAN VIVIER

Naidoo, die uitvoerende sekretaris van die grondwet-waghond Casac, meen egter tensy Mabuza sy naam aan die ANC-kandidaatlys onttrek het, hy benoembaar bly as LP. “Ek is nie bewus dat hy wel sy naam onttrek het nie,” sê hy.

“Die verwarring gaan oor name op die kandidaatlyste wat ingevolge die kieswet eers na ’n jaar verander kan word. Sy naam bly egter nog op die lys en daarom kan hy nog enige tyd as LP beëdig word,” sê Naidoo.

Die bespiegelings loop sterk dat Mabuza oppad is na Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor, en dat drr. Nko­sazana Dlamini-Zuma of Naledi Pandor Ramaphosa se adjunk kan word.

Die Grondwet bepaal dat ’n adjunkpresident net uit LP’s in die Nasionale Vergadering gekies kan word.

Ramaphosa sal sy kabinet Saterdag ná sy inhuldiging bekend maak.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die ANC-koukus in die parlement, het gister gesê die LP-poste wat vakant geraak het weens die onttrekking van Nomvula Mokonyane, Malusi Gigaba en Baleka Mbete sal eers teen volgende week gevul word.

Oor Mabuza se LP-pos het sy gesê dit is “op ys”.

Peter Attard Montalto, hoof van navorsing oor kapitaalmarkte van Intellidex, meen Mabuza speel ’n langtermyn-spel met sy oog op die ANC se 2022-verkiesingskonferensie. Voor dan wil Mabuza sy naam by die ANC se integriteitskomitee skoon kry, sê Montalto in ’n verklaring.

Met sy jongste skuif kan hy in die komende drie jaar agter die skerms in die ANC werk om sy magsbasis in Mpumalanga nasionaal uit te brei.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, stem saam dat Mabuza se uittrede uit die parlement ’n taktiese skuif is om sy steunbasis te konsolideer om oor vyf jaar te kan meeding om ANC-president te word.

’n Ander siening volgens Venter is dat Mabuza se “politieke manipulasie” hom uiteindelik ingehaal het en dat sy politieke loopbaan sy einde bereik het. Hierdie siening word gehuldig omdat Mabuza nog aan geen skelmstreek skuldig bevind of aangekla is nie.

Venter meen Mabuza se uittrede hou op kort termyn ook meer voordele as nadele vir Ramaphosa in.

“Maar die potensiaal vir nadele op die langtermyn is baie groot,” sê Venter. Mabuza het kort na sy aanstelling as adjunkpresident in Februarie verlede jaar beweringe van grootskaalse korrupsie, politieke sluipmoorde en ander misdade teen hom in sy termyn as premier van Mpumalanga as ’n smeerveldtog afgemaak.

Hy het toe enigiemand met bewyse daaroor versoek om dit by die polisie aan te meld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.