Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mabuza moet ‘2 sentrums van mag keer’

Adj.pres. David Mabuza se moontlike skuif na Luthuli-huis is waarskynlik ’n weldeurdagte strategie om te verhoed dat die Ace Magashule-faksie daar te dominant word en sodoende twee sentrums van mag skep wat pres. Cyril Ramaphosa as staatshoof kan ondermyn, meen politieke kenners.

Só sê prof. Bheki Mngomezulu, van die Universiteit van Wes-Kaapland, en dr. Nontsikilelo Breakfast, van die Universiteit Stellenbosch. Albei meen dít het veral duideliker geword nadat die ANC Woensdag ook aangekondig het dat Nomvula Mokonyane, die beleërde minister van omgewingsake en self ’n stoere ondersteuner van Magashule en oudpres. Jacob Zuma, ook oppad na Luthuli-huis is.

Ace MagashuleFoto: CITY PRESS

Intussen het Mokonyane – wat onlangs nog voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping by ernstige beweringe van korrupsie met Bosasa betrek is – boonop weens “familieverantwoordelikhede” die magtige pos van voorsitter van komitees in die parlement van die hand gewys.

Mabuza, wat deur sommige as ’n baie uitgeslape en strategiese politikus beskou word, het Woensdagoggend ook verras deur sy beëdiging as LP “uit te stel”. Daar word die afgelope ruk egter reeds wyd berig dat hy na Luthuli-huis herontplooi gaan word.

Bogenoemde drama het gevolg nadat Malusi Gigaba, omstrede voormalige minister wat ook nouliks met die Zuma/Gupta-staatskapingsprojek verbind word, en Baleka Mbete, die voormalige Speaker, Dinsdag ook hul benoemings as ANC-LP’s van die hand gewys het.

Mokonyane se skuif na Luthuli-huis het veral bespiegelinge die hoogte in laat skiet dat die sogenaamde Zuma-faksie, waarvan Magashule tans die openbare gesig is, hul mag by die ANC-hoofkantoor wil konsolideer en vandaar teen Ramaphosa terugbaklei.

Breakfast sê daar broei duidelik ’n oorlog tussen die twee faksies. “As Mokonyane saam met Magashule by Luthuli-huis gaan werk, is Ramaphosa diep in die moeilikheid. Vandaar sal hulle voortbou aan hul faksionele binnegevegte om van Ramaphosa ontslae te raak soos wat die geval voor die ANC se Nasrec-verkiesingskonferensie in 2017 was.”

Volgens Breakfast is Ramaphosa te verwyderd van die ANC as hy sy staatshoof-funksies uitvoer en maak dit van Magashule “as die ANC se hoofadministreerder ’n baie magtige man”.

“Ons het reeds gesien hoe Magashule tydens die ANC se verkiesingsveldtog al hoe meer verdelende en faksionele uitsprake gemaak het.”

Hy meen die rasionaal agter Mabuza se skuif na Luthuli-huis is duidelik, veral nadat Zizi Kodwa en Senzo Mchunu, Ramaphosa-vertrouelinge wat Ramaphosa se belange sedert die Nasrec-konferensie in Luthuli-huis beskerm het, ook albei as LP’s Woensdag beëdig en heel waarskynlik ministers sal word.

Mngomezulu meen hoewel die jongste verwikkelinge ook kan aandui dat die Ramaphosa-faksie die oorhand in die ANC se nasionale uitvoerende komitee het en kan bepaal wie ministers word, sal sy nuwe kabinet nogtans ’n balans moet wees om aanklank by die verskillende faksies en belangegroepe te vind.

Volgens hom is Mabuza en Mokonyane se laasteminuut-ontrekking egter “sinister, wat wys iets is aan die broei in die ANC”.

“Faksies is ’n realiteit, al ontken ANC-leiers dit. Daarom is Mabuza se moontlike skuif ’n weldeurdagte strategiese teenwig teen die Magashule-faksie daar. Dit sodat dit nie te dominant word en twee sentrums van mag skep wat die Ramaphosa-presidensie kan ondermyn nie.”

Dr. Protas Madlala, ’n onafhanklike politieke ontleder, meen Mabuza se skuif kan selfs ’n aanduiding wees dat daar hard agter die skerms onderhandel is om alle faksie-, gender- en belangegroepe tevrede te hou deur byvoorbeeld vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as adjunkpresident in sy plek aan te stel.

Volgens hom is Mabuza – wat self presidensiële ambisie het – jonger, uitgeslape en ’n politieke strateeg wat sy steun uit Luthuli-huis kan konsolideer om ná Ramaphosa ANC-president te word.

Meer oor:  Ace Maga­Shule  |  Luthuli-Huis  |  David Mabuza  |  Politiek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.