Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mabuza ontken hy was betrokke by korrupsie in M’langa

Adj.pres. David Mabuza ontken dat hy betrokke was by ’n beweerde bedrogspul met grondtransaksies in Mpumalanga.

Dit kom nadat 11 mense, onder andere Bongani Bongo, senior ANC-LP en voormalige minister van staatsveiligheid, Woensdag op 67 aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery in die landdroshof in Mbombela verskyn het.

IOL het Dinsdag berig Mabuza word ook ondersoek in verband met dié bedrogspul waarby die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga betrek word.

Mabuza het pogings om hom by die kwessie te betrek in ’n verklaring veroordeel.

“Die adjunk-president weet nie van enige ondersoek na hom soos wat in die media berig word nie, maar hy sal met wetstoepassingsagentskappe saamwerk sou daar vrae wees,” lui die verklaring.

Mabuza het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se vordering met die ondersoek na die provinsiale departement verwelkom.

Die adjunk-president weet nie van enige ondersoek na hom soos wat in die media berig word nie, maar hy sal met wetstoepassingsagentskappe saamwerk sou daar vrae wees.

Intussen het Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, in ’n verklaring bekend gemaak dat die party aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, geskryf het om Bongo as die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake te verwyder.

Hy staan boonop in ’n afsonderlike saak tereg op aanklagte van korrupsie en omkopery waarvoor hy na verwagting op 27 November in die landdroshof in Kaapstad sal verskyn. Hy word daarvan beskuldig dat hy in 2017 by omkopery betrokke was om ’n parlementêre ondersoek na Eskom te ontwrig.

“Die parlement moet ’n sterk boodskap aan die mense van Suid-Afrika stuur dat dié instelling daadwerklik sal afreken met diegene wat by korrupsie geïmpliseer word,” sê Mazzone.

Bongo, asook sy broer, Sipho, is Woensdag op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Die staat voer in hofstukke aan dat sowat R74 miljoen omstreeks 2011 deur verdagte grondtransaksies van die provinsiale departement van menslike nedersettings gesteel is.

Bongo was toe nog ’n amptenaar van die departement.

Luidens die klagstaat is hy in 2011 deur Blessing Singwane van Singwane Attorneys omgekoop.

Singwane het glo R900 000 in paaiemente aan motorhandelaars vir onderskeidelik ’n BMW X5 en ’n Audi A5 betaal. Hoewel die motors op Sipho se naam geregistreer is, voer die staat aan dat Bongo die werklike eienaar van die motors was.

Luidens die klagstaat het Bongo in ruil daarvoor druk op amptenare uitgeoefen om sowat R37,5 miljoen aan Singwane Attorneys te betaal om die plaas Naauwpoort naby Emalahleni te bekom, terwyl die plaas vir net R15 miljoen in die mark was. Die prokureursfirma het betalings aan verskeie maatskappye en beskuldigdes gedoen.

Die firma staan ook sentraal in die departement se aankoopproses om ’n tweede plaas in Rietspruit te bekom – ook om ’n township te vestig.

Volgens die klagstaat het twee van die beskuldigdes, Vusi Magagula en Bonagni Sibiya, die departement deur hul maatskappy Bongiveli ’n rat voor die oë gedraai deur voor te gee dat die plaas aan Bongiveli behoort.

Die departement het ’n astronomiese bedrag van meer as R52 miljoen aan Singwane Attorneys betaal sodat die grond aan die Musikaligwa-munisipaliteit oorgedra kon word.

Pleks daarvan is die plaas op Bongiveli se naam geregistreer en later is die grond teen R32 miljoen aan die departement terugverkoop.

Die nasionale vervolgingsgesag het Woensdag in ’n verklaring gesê die betrokke plase is nooit as townships geproklameer nie.


Meer oor:  Korrupsie  |  David Mabuza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.