Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mabuza: 'SA moet saamstaan teen rassisme'

Suid-Afrikaners moet verenig in die stryd teen rassisme, rasdiskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamheid op alle fronte, se adj.pres. David Mabuza in aanloop tot Menseregtedag wat Woensdag landwyd gevier word.

Adj. pres. David Mabuza. Foto: Theana Breugem

Mabuza, voormalige premier van Mpumalanga, sal Dinsdag en Woensdag ook die middelpunt van politieke aandag in Suid-Afrika wees in sy hoedanigheid as waarnemende president.

Dit terwyl pres. Cyril Ramaphosa op ’n amptelike besoek in Rwanda is waar hy ’n buitengewone beraad van staatshoofde van die Afrika-eenheid tot Woensdag sal bywoon.

Dinsdag sal Mabuza, wat in Februarie adjunkpresident geword het toe Ramaphosa die kabinet ná oudpres. Jacob Zuma se bedanking as staatshoof geskommel het, vir die eerste keer mondelingse vrae van LP’s in die Nasionale Vergadering beantwoord.

Hy is in sy kapasiteit as adjunkpresident ook leier van regeringsake in die parlement.

Die vrae wat Mabuza Dinsdagmiddag sal moet beantwoord wissel van radikale ekonomiese transformasie, gratis hoër onderrig en -opleiding, die onwettige uitvloei van geld uit Suid-Afrika, morele herlewing, geweld teen vroue tot by China se standpunt oor Tibet.

Maandag het die presidensie ook aangekondig dat Mabuza Woensdag Suid-Afrika se amptelike Menseregtedag-vieringe by Sharpeville in Gauteng sal lei.

Dit is ter herinnering aan die 69 betogers wat in die sogenaamde Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960 deur destydse veiligheidsmagte tydens ’n betoging teen paswette doodgeskiet is.

Saam kan ons rassisme konfronteer en ons land na ’n totale nierassige samelewing beweeg.

“Saam kan ons rassisme konfronteer en ons land na ’n totale nierassige samelewing beweeg. Die regering doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om Menseregtedag te gebruik om maatskaplike samehorigheid, nasiebou en ons nasionale identiteit te kweek,” sê Mabuza.

Hy sê dat Suid-Afrikaners Menseregtedag moet gebruik as ’n verantwoordelikheid om vryheid te bevorder en om die land se demokrasie ter ere van wyle oudpres. Nelson Mandela te verdedig.

Hy het ook ’n beroep op landsburgers gedoen om saam te werk om ’n meer inklusiewe ekonomie te bou wat waarlik die demografie van die land weerspieël om gelyke ekonomiese regte te verseker.

“Die ekonomiese vryheid van miljoene Suid-Afrikaners sal effek gee aan ons mense- en sosio-ekonomiese regte wat moeilik verkry is.

“Saam moet ons herverdelingsmaatreëls ondersteun om die lewenstandaard en -gehalte vir almal te verbeter.”

Mabuza sê dat die regering saam met die private sektor, georganiseerde arbeid en die burgerlike gemeenskap sal werk om die eienaarskap, beheer en bestuur van die ekonomie drasties te verander.

“Ons moet verseker dat alle Suid-Afrikaners, veral diegene wat van ekonomiese regte ontneem is, betekenisvol en aktief deelneem in alle strategiese sektore van die ekonomie. Dit is om te verseker dat hul ekonomiese regte vervul word en dat Suid-Afrika se rykdom gelyk verdeel word,” sê Mabuza.

Intussen sal Mmusi Maimane, DA-leier, Woensdag ter viering van Menseregtedag ’n gedenkplaat by die Talisman-stigting in Johannesburg onthul ter ere van die Life Esidimeni-tragedie en ander geestesversteurde Suid-Afrikaners wat hul lewe “weens die ANC-regering” in Gauteng verloor het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.