Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mabuza: Tito se mening is nie regeringsbeleid

Adj.pres. David Mabuza het Dinsdag ’n beroering in die Nasionale Vergadering veroorsaak toe hy gesê het hy neem nie Tito Mboweni, minister van finansies, ernstig op oor sy uitspraak rondom die moontlike privatisering van sekere staatsinstellings nie.

Mabuza, voorsitter van die spesiale kabinetskomitee om Eskom te stabiliseer, is in vraetyd deur Natasha Mazzone, DA-LP, gewys op ’n uitspraak deur Mboweni “dat sommige staatsinstellings nie vereis word nie en dat sommige van hulle verkoop moet word”.Sy wou weet of hy “Mboweni se beroep op privatisering van Eskom en die verkoop van sekere staatsinstellings” steun.

Adj.pres. David Mabuza

Mabuza het gesê hy dink nie die debat moet op dié wyse benader - of daar sekere staatsinstellings is wat geprivatiseer moet word - word nie. “Ek neem nie regtig die minister van finansies ernstig op wanneer hy kommentaar lewer nie… dit is sy eie oortuiging, want as hy sê ‘na my mening’, ‘na my mening’...

“Ons sal die minister ernstig opneem wanneer hy regeringstandpunte artikuleer, maar wanneer hy sy menings uitspreek, wanneer hy twiet… ek gaan nie ’n twiet deur die minister in oorweging neem nie. Ek gaan dit nie ernstig opgeneem nie, dit is nie regeringsbeleid nie,” het Mabuza gesê.

Nadat Narend Singh, IVP-hoofsweep, hierna opgestaan het om ’n vraag aan Mabuza te stel, het hy opgemerk dat dit die eerste keer is dat hy hoor ’n adjunkpresident stem nie saam met sy eie minister van finansies nie.

Mabuza het gereageer en gesê hy wil sy standpunt toelig:

“Jy sien, as jy ’n adjunkpresident, ’n minister is, moet jy daarvan afsien om as ’n individu te praat. Jy beweeg weg van jou mening. Jy het nie daardie ruimte om jou mening te lug nie, want as jy opstaan, mag jy die gehoor verwar.”

Tito Mboweni
Tito Mboweni. Foto: Deaan Vivier

Mazzone het in nóg ’n vraag aan Mabuza gesê noudat almal weet hy “neem nie die minister van finansies ernstig op nie” of gereelde terugvoer van die spesiale kabinetskomitee oor Eskom verwag kan word. Sy het gesê die publiek word in die duister gehou oor die situasie, aangesien daar Maandag en Dinsdag ’n risiko van beurtkrag was.

Mabuza het geantwoord dat wat die minister van finansies ook al gesê het met betrekking tot privatisering is dit die mening van die minister. “Die president het hier gestaan en gesê daar is geen voorneme om Eskom te privatiseer nie. Punt. As die minister dit wil hê, is dit sy mening. Daar is een ding wat ek geleer het, wanneer jy ’n minister is… wanneer jy in dié amp is, hou jy op om ’n individu te wees. Jy werk binne ’n kollektief, jy staan nie net op en sê wat jy wil sê nie.”

Mabuza het ook het sy uitspraak van twee weke gelede herhaal dat van die kernoorsake van die huidige elektrisiteitskrisis die bevolkingsgroei en die uitbreiding van elektrisiteit aan alle Suid-Afrikaners is.

Ander faktore sluit onder andere in bestuurs-, geldelike en bedryfsuitdagings. Eskom het ’n regrukplan ontwikkel om dié uitdagings te takel.

Nóg ’n faktor is die toename in skuld in sommige munisipaliteite wat die gevolg is van moeilike ekonomiese toestande en die kultuur van wanbetaling in die land, het Mabuza gesê.

Hy het daarop gewys dat Eskom nie genoeg kontant genereer om sy skuld te kan betaal nie en dus geld leen. Sommige van die uitdagings word gedryf deur kostes en tydsraamwerke wat met die nuwe bouprogram oorskry is, onvolhoubare skuldvlakke en swak instandhouding van aanlegte wat gelei het tot die toename in dieselverbruik wat Eskom se kontantvloei wegkalwe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.