
David Mabuza (regs), die vorige adjunkpresident, word Dinsdagmiddag in die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria deur hoofregter Mogoeng Mogoeng as parlementslid beëdig. Foto: Sarel van der Walt
sarel van der walt
Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagmiddag vir ’n verandering nie die voorste gestoeltes op ’n amptelike geleentheid ingeneem nie.

“Sê agter my aan . . .” Hoofregter Mogoeng Mogoeng Dinsdagmiddag besig om David Mabuza, die vorige adjunkpresident, as parlementslid te beëdig. Foto: Sarel van der Walt
Netwerk24 sarel van der walt
Hy het toegekyk hoe David Mabuza, die vorige adjunkpresident, in die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria deur hoofregter Mogoeng Mogoeng as parlementslid beëdig word.
Mabuza het Ramaphosa verlede Woensdag ter elfder ure versoek om sy beëdiging “uit te stel” sodat hy eers met die ANC se integriteitskomitee kon skakel oor bewerings wat dié komitee teen hom en ander hooggeplaaste ANC-leiers gemaak het.
Mabuza, adjunkpresident van die ANC wat ’n groot rol gespeel het in die verkiesing van Ramaphosa tot ANC-president in 2017, se beëdiging baan waarskynlik die weg vir hom om weer Ramaphosa se adjunk te word.
Die president sal na verwagting in die komende dae sy nuwe kabinet aankondig.

Pres. Cyril Ramaphosa (links) Dinsdagmiddag in Pretoria saam met hoofregter Mogoeng Mogoeng, David Mabuza, die vorige adjunkpresident, en Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering. Dit was nadat Mabuza as parlementslid beëdig is. Foto: Sarel van der Walt
Netwerk24 sarel van der walt
Mabuza se termyn as adjunkpresident het verstryk die oomblik toe Ramaphosa Saterdag op Loftus Versfeld as president ingehuldig is.
Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, was ook teenwoordig, sowel as Pemmy Majodina, die ANC se hoofsweep in die parlement.
Die verrigtinge was binne enkele minute verby.
Nadat Mabuza beëdig is, het Ramaphosa met ’n groot glimlag na hom toe gestap en hom gelukgewens.
Hulle het daarna saam met Mogoeng, Modise en Majodina vir groepfoto’s geposeer.
Geen vrae is toegelaat nie.