Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mabuza ‘vat die Eskom-gaping’

Met sy uitlating dat Eskom pres. Cyril Ramaphosa mislei het deur te sê dat daar tot middel-Januarie geen beurtkrag sal wees nie, het adj.pres. David Mabuza net ’n politieke leierskapsvakuum oor die kragkrisis gevul.

Só het dr. Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, Donderdag gesê en bygevoeg dat die Eskom-krisis net “Ramaphosa se onvermoë om ’n krisis te bestuur blootgelê het”.

Mabuza se uitlatings het gekom nadat die SAUK-joernalis Samkelo Maseko hom Donderdag in Kimberley gevra het: “Misluk die huidige Eskom-direksie en veral Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Jabu Mabuza, Eskom-voorsitter, wat elektrisiteitsopwekking betref? Hulle het die president mislei en gesê daar sal geen beurtkrag van Desember tot 13 Januarie wees nie, maar wel, wel, wel, daar is beurtkrag.”

Adj.pres. David MabuzaFoto: CITY PRESS

Mabuza het hierop gereageer: “Wel, hulle het die president mislei.”

Volgens hom het hy sedert sy en Ramaphosa se besoek aan Eskom daarop aangedring dat die instandhouding van kragstasies uiters belangrik is.

“Jy kan nie sê dat daar geen beurtkrag sal wees as daar géén doeltreffende instandhouding van hierdie kragstasies is nie. Dit is Eskom se probleem.”

Mabuza het luidens News24 bygevoeg dat die Eskom-direksie “sukkel om dinge reg te kry”, maar dat hy binnekort met André de Ruyter, Eskom se nuwe uitvoerende hoof, sal vergader sodat hy “ons presies kan inlig waar ons hom moet bystaan”.

Mathekga meen Mabuza het die geleentheid aangegryp omdat daar tans geen duidelike politieke leierskap oor die Eskom-krisis is nie.

“Hy pak Eskom nou direk. Eskom is ’n boelie, is arrogant en soek net tariefverhogings sonder om daaroor te kommunikeer.”

Hy meen Mabuza is in voeling met die openbare sentiment jeens Eskom, en dat Suid-Afrikaners moeg is vir die kragreus. “Hy toon leierskap wat hom al meer na presidensiële materiaal laat lyk,” het Mathekga gesê.

Mabuza, Ramaphosa en die res van die ANC se topleierskap is die week in Kimberley in die Noord-Kaap ter voorbereiding van die ANC se 108ste bestaansjaarvieringe wat Saterdag plaasvind.

Intussen het Eskom Donderdag ook aangekondig dat beurtkrag, wat Suid-Afrikaners weer sedert vroeg Januarie teister, nog tot Vrydag 06:00 sal duur.

Op sy beurt het Ramaphosa Donderdag aan inwoners van die Roodepan-woongebied in Kimberley gesê dat Eskom weens sy verouderde kragstasies ernstige probleme ondervind.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: CITY PRESS

“Selfs die twee nuwes, Medupi en Kusile, is ook ’n voortdurende teleurstelling. Nes ons dink dit sal aanhou behoorlik werk, skakel dit af of gee die vervoerband in. Wanneer ons dink dat daar stabiliteit is en dat ons geen beurtkrag gaan hê nie, loop iets oor en oor verkeerd.”

Ramaphosa het egter belowe dat Eskom en die regering alles moontlik doen om die probleme, veral ten opsigte van die instandhouding van kragstasies, op te los.

“Ons vra ons mense om geduldig te wees terwyl ons die kragstasies in stand hou en seker maak dat die nuwes hul volle kapasiteit kan bereik. Daarmee sal ons ’n stabiele Eskom hê.

“Terselfdertyd het ons ook ingestem dat daardie maatskappye wat hul eie elektrisiteit wil opwek, toestemming gegee moet word om dit te doen. Ons moet kapasiteit byvoeg by wat ons in Eskom het.”

Dikatso Mothae, Eskom-woordvoerder, het Donderdagmiddag aan eNCA, gesê dat sy in hierdie stadium nie kommentaar op Mabuza se uitlatings gaan lewer nie, omdat “Eskom amptelik deur die direksie of moontlik die aandeelhouer (Gordhan) sal reageer”.

Selfs die twee nuwes, Medupi en Kusile, is ook ’n voortdurende teleurstelling. Nes ons dink dit sal aanhou behoorlik werk, skakel dit af of gee die vervoerband in. Wanneer ons dink dat daar stabiliteit is en dat ons geen beurtkrag gaan hê nie, loop iets oor en oor verkeerd.
Pres. Cyril Ramaphosa

Intussen sê Ted Blom, ’n energie-ontleder, Donderdag dat nié Ramaphosa óf Mabuza kan waarborg dat daar geen beurtkrag sal wees nie.

“Dit omdat dit ’n stelselgedrewe besluit is om die netwerk teen ineenstorting te beskerm.”

’n Donker toekoms word voorspel as dit nie gebeur nie, meen hy.

“Ek ervaar liewer erge beurtkrag as wat die netwerk weens oorlading ontplof,” het Blom bygevoeg.

Meer oor:  Beurtkrag  |  Cyril Ramaphosa  |  Eskom  |  David Mabuza  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.