Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Madiba: ‘Niemand was gereed vir wat dié dag sou inhou’

Presies 30 jaar ná wyle oudpres. Nelson Mandela se vrylating uit die Victor Verster-gevangenis is baie Suid-Afrikaners – weens die geweld in die land, mislukte herstellende geregtigheid en die “tronke van denke” – gevangenes in hul eie huise.

So lui ’n verklaring deur die Nelson Mandela-stigting met die herdenking van Madiba se vrylating ná 27 jaar as politieke gevangene.

Die plakkaat by die Drakenstein Korrektiewe Sentrum buite die Paarl. Foto: Jaco Marais

Die oorlewende lede van die komitee wat die reëlings vir sy verwelkoming op 11 Februarie 1990 ná sy vrylating getref het, het Dinsdag in die Drakenstein Korrektiewe Sentrum (destyds die Victor Verster-gevangenis) buite die Paarl bymekaargekom.

By die geleentheid het onder andere Trevor Manuel, Valli Moosa en Sydney Mufamadi staaltjies oor dié groot dag in die land se geskiedenis gedeel.

Willie Hofmeyr, ’n adjunk-nasionale direkteur van die nasionale vervolgingsgesag, Bulelani Ngcuka, eertydse hoof van die nasionale vervolgingsgesag, Saleem Mowzer, oudraadslid van Kaapstad, en die Australiese krieketlegende Shane Warne was ook onder die gaste.

Die Australiese krieketlegende Shane Warne sit agter en luister. Foto: Jaco Marais

Dit blyk dat die verwelkomingskomitee nie voorbereid was op die invloed wat Madiba sou hê nie. Hulle was aanvanklik bekommerd oor die belangstelling en of hulle die Parade sou kon “volpak”. Derduisende mense het egter ure lank gewag om Madiba te hoor praat.

Die logistiek was ook ’n uitdaging, want daar was nie selfone in daardie tyd nie, is gesê.

Daar was Dinsdag konsensus dat hulle heeltemal onvoorbereid was vir die skaal wat van dié dag sou inhou.

Oudminister Trevor Manuel aan die woord. Foto: Jaco Marais

Pres. Cyril Ramaphosa, wat destyds die voorsitter van die komitee was, gaan later Dinsdag terug na die balkon van die Kaapstadse stadsaal, waar hy drie dekades gelede langs Mandela gestaan het toe hy sy eerste openbare toespraak gelewer het.

Ramaphosa se toespraak op die balkon begin om 14:30. Volg Netwerk24 se regstreekse dekking later vanmiddag.

In sy weeklikse nuusbrief Maandag het Ramaphosa, wat langs Mandela gestap het toe hy uit die gevangenis vrygelaat is, gesê hy onthou daardie dag nog baie goed.

Wat hom bybly, is die groot skare wat daardie oggend buite die gevangenis op Mandela se vrylating gewag het en die groot skare wat hom later dieselfde dag op die Parade in Kaapstad ingewag het.

Die oomblik toe Mandela deur die hekke van die gevangenis na vryheid stap, het ’n nuwe daeraad vir die land aangebreek, het Ramaphosa gesê.

’n Lesing word om 12:00 in die Kaapstadse stadsaal deur Leymah Gbowee, 2011 se mede-Nobelpryswenner vir vrede, gelewer. Daar sal ook ’n paneelbespreking wees waaraan Danai Mupotsa, skrywer van Feeling and Ugly, en Opal Tometi, medestigter van Black Lives Matter, sal deelneem.

Meer oor:  Trevor Manuel  |  Paarl  |  Stadsaal  |  Mandela-Vrylating
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.