Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Madikizela bedank as Wes-Kaapse DA-leier, LUR

Bonginkosi Madikizela het Woensdag as die DA se Wes-Kaapse leier bedank.

Die party sê in ’n verklaring hy neem kennis van Madikizela se bedanking en respekteer sy besluit.

Madikizela het ook as Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke bedank.

Bonginkosi Madikizela het as die Wes-Kaapse leier van die DA bedank. Foto: Malherbe Nienaber

Die provinsiale premier, Alan Winde, het in ’n afsonderlike verklaring gesê “gegewe die omstandighede glo ek dat sy besluit die regte en eerbare ding was om te doen”.

Die bedanking van Madikizela, wat sedert 2018 die provinsiale leier was, kom ná aantygings dat hy oor sy akademiese kwalifikasies gejok het.

Winde het hom op 15 April tydelik vir 14 dae as LUR geskors, hangende ’n ondersoek na die aantygings, en Madikizela se skorsing sou Donderdag verstryk het.

Ondanks sy bedanking uit die onderskeie ampte, sal hy as lid van die party aanbly.

Dit is egter onduidelik of hy steeds as die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad in die komende plaaslike verkiesing gaan meeding.

Madikizela kon nie Woensdagmiddag onmiddellik vir kommentaar bereik word nie. Toe Netwerk24 hom gebel het, het hy sy foon doodgedruk en ’n SMS gestuur wat lui: “Jammer, ek kan nie nou praat nie.”

Intussen het Winde gesê Madikizela het ’n waardevolle bydrae tot die vordering van die Wes-Kaap oor die afgelope paar jaar gelewer en hom vir sy harde werk in die portefeuljes van vervoer en openbare werke, asook menslike nedersettings bedank.

“Tertuis Simmers sal voortgaan om as waarnemende LUR vir vervoer en openbare werke op te tree voordat ek binnekort ’n verdere verklaring oor my kabinetsamestelling sal maak,” het Winde gesê.

In reaksie op Madikizela se bedanking het Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, gesê sy party vra steeds dat die wetgewer se gedragskode-komitee ondersoek instel of hy met sy gedrag enige etiese kode oortree het.

Hy meen die DA het druk uitgeoefen op Madikizela om as provinsiale leier en LUR te bedank – iets wat, volgens hom, strydig is met hoe ander omstrede DA-leiers behandel is.

Albert Fritz, adjunk- provinsiale DA-leier, sal intussen as waarnemende provinsiale DA-leier optree totdat die party op 29 Mei ’n tussentydse leier in die Provinsiale Raad verkies.

Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Da-Leier  |  Wes-Kaap  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.