Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Madikizela tree ook uit stryd vir Kaapse burgemeester
Bonginkosi Madikizela Foto: Verskaf
Dr. Nomafrench Mbombo Foto: Edrea du Toit

Bonginkosi Madikizela het ná sy bedanking as DA-leier in die Wes-Kaap en as LUR, ook bekend gemaak dat hy nie meer vir dié party se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad wil staan nie.

Dit laat twee ander partylede oor wat hul name in die hoed gegooi het vir die komende plaaslike verkiesing, insluitend die huidige burgemeester, Dan Plato.

Madikizela het Donderdag by navraag gesê hy wil nie kommentaar lewer oor sy bedanking as provinsiale leier of as LUR vir vervoer en openbare werke die vorige dag nie.

Hy het wel gesê hy gaan nie meeding om die DA se burgemeesterskandidaat te word nie.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, het Woensdag ook as leier van die DA se vroue-netwerk (Dawn) bedank, maar sê dit hou nie verband met Madikizela se bedanking nie.

Lees hieroor haar bedanking. 

Haar woordvoerder het gesê dit is weens die groeiende werklas wat die koronaviruspandemie vir haar as LUR meebring.

Steenhuisen se brief

John Steenhuisen Foto: Jabu Kumalo

Intussen het John Steenhuisen, DA-leier, ’n brief aan Madikizela uitgereik.

Hulle het Donderdag vergader nadat Madikizela die vorige dag ’n brief aan hom gestuur het om sy bedanking aan te kondig.

Steenhuisen skryf dat hy Madikizela se bedanking met “opregte hartseer” moet aanvaar en dat hy uitstekende werk in verskeie rolle in leierskap en die regering gelewer het. “Jy het ’n aansienlike impak gemaak op die lewe van die Wes-Kaap se inwoners, veral met jou inisiatiewe oor openbare vervoer en vernuwings soos die Blue Dot- en Red Dot-minibustaxi-inisiatiewe.”

Steenhuisen sê in die brief hy kan verstaan dat die laaste paar weke vir Madikizela moeilik was. “En ek kan nie help om die feit te bewonder dat jy, soos altyd, eerste aan die aansien van jou party en ons saak dink nie.”

Volgens Steenhuisen is daar “ver te min” mense in die openbare lewe in Suid-Afrika wat opstaan en verantwoordelikheid neem vir hul optrede. “Deur ’n voorbeeld te stel, het jy bewys dat jy ’n veel groter man as jou kritici is.”

Die DA het Donderdag ook vir Madikizela bedank vir sy diens aan die party en die provinsie. Hy is in 2018 tot Wes-Kaapse DA-leier verkies en is verlede jaar herverkies.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, neem as provinsiale partyleier waar tot ’n tussentydse leier einde Mei deur die provinsiale raad verkies word.

Tertuis Simmers, LUR vir menslike nedersettings, sal intussen voortgaan om as LUR vir vervoer en openbare werke in Madikizela se plek op te tree.

Alan Winde Foto: Malherbe Nienaber

Alan Winde, premier, het Donderdag gesê hy sal binnekort ’n aankondiging oor die samestelling van sy kabinet maak en dat hy glo Madikizela se bedanking was “onder die omstandighede die regte en eerbare ding om te doen”.

Die interne stryd

Madikizela was een van drie vername DA-lede wat in Maart hul voorneme om die DA se burgemeesterskandidaat te word bekend gemaak het, saam met Plato en Geordin Hill-Lewis, DA-LP.

’n Paneel van 22 mense sal onderhoude met die kandidate voer. Dié onderhoude is vandeesmaand uitgestel.

In 2016 se verkiesings het die DA die Kaapstad-metroraad met 66,6% gewen, met Plato se voorganger, Patricia de Lille, wat toe verkies is. Die party se steun het in dié verkiesing van 60,9% in 2011 gegroei.

Winde het Madikizela op 15 April as LUR vir 14 dae geskors terwyl aantygings dat hy oor sy kwalifikasies gelieg het, ondersoek is.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het die dag tevore bekend gemaak dat die party se federale regskommissie ondersoek instel of Madikizela op bedrieglike wyse aanspraak op ’n graad gemaak het.

Madikizela het toe ook afstand gedoen van sy provinsiale leierspos in die DA en dit aan Fritz, die adjunkleier, as waarnemende leier oorhandig.

Zille het toe sy in 2009 die Wes-Kaapse premier was, vir Madikizela vir die eerste keer aangewys as LUR vir menslike nedersettings.

Voorheen was hy betrokke as woordvoerder en skakelbeampte by die Kaapstadse burgemeesterskantoor en vroeër het hy by die Khayelitsha-ontwikkelingsforum (KDF) gewerk.

In die week van sy skorsing het Madikizela gesê die aantygings teen hom is “deel van ’n agenda deur bose mense” in sy eie party.

Hy het aangevoer dit hou verband met interne mededinging in die DA in die aanloop tot die verkiesings.

“Die idee dat hulle iemand sal hê wat hulle nie kan beheer of na hul belange sal omsien nie, het hulle vreesbevange gemaak. Dit is wat ek deurgaan elke keer as ek meeding om ’n pos in die party of die regering.”

Onmin oor kwalifikasies

Daily Maverick het in dié tyd berig dat hy nie Madikizela se CV in die hande kon kry of bevestig dat hy ’n BCom in mensehulpbronbestuur verwerf het nie, soos in sy biografie op die provinsiale regering se webwerf gestaan het.

Madikizela het toe aan joernaliste gesê dat hy aan Unisa studeer het en later dat hy nie die graad voltooi het nie en dat dit verkeerdelik so aangedui is.

Luidens sy CV op die provinsiale regering se webwerf het Madikizela (46) ook ’n sertifikaat in inligtingstegnologie (IT).

In 2017 is Madikizela van korrupsie beskuldig deur die ANC, onder meer in verband met sy verjaarsdagpartytjie by die One&Only-hotel in die V&A Waterfront wat glo deur Mbombo, sy lewensmaat, gereël is.

Daar is toe aangevoer dat konstruksiemaatskappye vir die partytjie betaal het en die openbare beskermer en premier is gevra om ondersoek in te stel.

Madikizela het egter gesê dat hy niks het om weg te steek nie en geen probleem met ’n ondersoek het nie.

Reaksie van opposisie:

Cameron Dugmore Foto: Malherbe Nienaber

Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, het Woensdag gesê die ANC hou vol dat die gedragskomitee in die wetgewer steeds moet ondersoek of Madikizela se gedrag die etiese kode vir lede van die uitvoerende raad (LUR’e) oortree het.

Volgens Dugmore is dit duidelik dat die DA druk op Madikizela geplaas het om te bedank “in skerp kontras met hoe hulle ander DA-leiers hanteer”.

“Die dubbele standaarde is voor die hand liggend.”

Dugmore vra waarom daar net teen sekere DA-leiers opgetree word en nie teen ander burgemeesters en raadslede wat van verdagte optrede beskuldig word nie.

“Dit is ’n party met een stel reëls vir swart leiers en ’n ander vir wit leiers.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, het Donderdag Madikizela se bedanking as LUR verwelkom nadat sy party die laaste paar weke Madikizela se kop geëis het.

Good het geëis dat Madikizela ook aanspreeklik gehou moet word nadat die openbare beskermer bevind het dat hy misleidende opmerkings aan Herron gemaak het in die wetgewer oor behuisingsprojekte in Kaapstad.

“Namate ons die 2021-verkiesing nader, is die leiers en lede van die DA in ’n bitter stryd vir beter poste. “Madikizela is gedwing om te bedank nadat aantygings aan die lig gekom het. Die OB se bevinding dat hy aan die wetgewer gelieg het, behoort voldoende gronde te gewees het om hom te verwyder.”

Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Dan Plato  |  John Steenhuisen  |  Uittrede  |  Burgemeester  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.