Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC druk Ace verder in 'n hoek

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, is nou geïsoleer.

Hy moet nou besef hy het verloor, sê die politieke ontleder dr. Oscar van Heerden van die Mapungubwe-instituut oor die besluit van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) dat Magashule om verskoning moet vra vir sy optrede verlede week toe hy kort ná sy eie tydelike skorsing vir pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, “geskors” het.

As Magashule dít nie doen nie, sal tugstappe teen hom begin word.

Van Heerden sê hy vermoed dit dui daarop dat die NUK Magashule uiteindelik permanent uit die ANC sal skors.

BLOEMFONTEIN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 19: ANC Secr
Ace Magashule toe hy op 19 Februarie in die Bloemfontein-landdroshof verskyn het. Foto: Gallo Images

Ramaphosa het in sy afsluitingsboodskap aan die einde van die driedaagse vergadering herhaal dat Magashule geen mag óf die mandaat van die enige ANC-struktuur gehad het om hom te skors nie.

“Dit was heeltemal strydig met alle beginsels en reëls van die ANC.”

Van Heerden, ’n kenner van die ANC-politiek, sê dit was ’n baie deurslaggewende NUK-vergadering.

“Mense soos Magashule, Bongani Bongo en Tony Yengeni en andere wou graag hê daar moes chaos wees.

“Ongelukkig vir hulle het dit toe nie gebeur nie – waarskynlik omdat dit ’n aanlyn vergadering was,” sê Van Heerden.

“Wat die gebeure by die NUK-vergadering ook vir ons sê, is dat die NUK én die nasionale werkkomitee baie ernstig is met die tydelike skorsing van Magashule – al dink hy self hy kan met sy werk voortgaan omdat hy appèl aangeteken het."

Die NUK het vroeër gelas alle ANC-ampsdraers wat strafregtelik aangekla word, moet opsy staan tot ná die afhandeling van die hofsake teen hulle.

“Ace Magashule is inderdaad nou in die ‘Ace-koue’ en hy het geen idee hoe om vorentoe te beweeg nie. Sy appèl sal eers met die volgende nasionale konferensie aan die einde van 2022 aangehoor kan word,” sê Van Heerden.

Ace Magashule is inderdaad nou in die ‘Ace-koue’ en hy het geen idee hoe om vorentoe te beweeg nie

Melanie Verwoerd, voormalige ANC-LP, sê dit sal interessant wees om te sien of Magashule om verskoning gaan vra.

“Dit is baie duidelik hy het dinge te ver gedryf en die gety het nou teen hom gedraai.”

Intussen is veral ANC-takke in die Vrystaat en KwaZulu-Natal wat pro-Magashule is, besig om steun vir hom te mobiliseer.

Ramaphosa het gesê die ANC se werk duur voort ten spyte van die party se probleme. Die party bly verbind tot eenheid.

“Die mense van Suid-Afrika kyk na die ANC-leierskap om die rigting aan te dui en om die radikale ekonomiese en maatskaplike transformasie van die samelewing te bespoedig.”

Hy het gewaarsku die ANC kan nie die vertroue en ondersteuning van die kiesers as vanselfsprekend beskou nie.

Dit is baie duidelik hy het dinge te ver gedryf en die gety het nou teen hom gedraai.

“So lank as wat ons as leiers verdeeld is, vir so lank as wat ons nie optree teen korrupsie nie en ons die mense nie eerste stel nie, sal ons sukkel om die geloofwaardigheid van die ANC te herstel,” het Ramaphosa gesê.

“Ons moet proaktief optree teen die vals indruk dat die ANC op die randjie van ineenstorting is. Die ANC is nié ’n sterwende organisasie nie. Hy leef en sal voortgaan om te lei.”

Tog sê emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n politieke en regskenner van Unisa, dit is duidelik dat die kohesie wat die ANC so lank bymekaar gehou het, onherroeplik verbrokkel het.

“Die Magashule-kamp sal eenvoudig aanhou om inligting uit te lek, want dié faksie se enigste opsie nou is om die party langs sy verdelingslyne te laat skeur.

“Die ANC is hoogs waarskynlik besig om in te plof en dreigemente gaan dit nie keer nie,” meen Labuschagne.

Dr. Ntsikilelo Breakfast, politieke ontleder aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê dit is ná die naweek se vergadering duidelik die Ramaphosa-faksie het nou ’n stewige greep op die ANC.

“Die president sê 200 van die ANC-takke het reeds hul jaarvergaderings gehou. Dit sal interessant wees om te weet waar húl lojaliteit lê.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Anc-Faksies  |  Skorsing  |  Nuk  |  Tugstappe  |  Ace Magashule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.